|
DIENSVOORWAARDES EN
AANVERWANTE AANGELEENTHEDE
REGISTRASIEVEREISTES
Registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO)
(Insluitend Beheerliggaam aanstellings en opvoeders by privaatskole)
Registrasie vir alle opvoeders by SARO is verpligtend, hetsy hulle oor professionele kwalifikasies beskik of nie. Geen opvoeder mag praktiseer tensy hy/sy by SARO geregistreer is en moet hom/haar neerlê by die gedragskode van hierdie liggaam. Dit sluit ook opvoeders wat deur beheerliggame aangestel en besoldig word in.
Tipe Aanstellings
Tydelik
‘n Aanstelling in ‘n tydelike hoedanigheid vir ‘n vasgestelde tydperk, hetsy in ‘n voltydse, deeltydse, of gedeelde hoedanigheid.
Permanent
‘n Aanstelling in ‘n permanente hoedanigheid in ‘n vakante pos waarvan die tydperk onbeperk is, onderhewig aan ‘n proeftydperk van minstens een jaar.
Deeltyds
‘n Opvoeder wat vir minder as 35 uur per week aangestel is, word op ‘n pro rata-basis vergoed. ‘n Opvoeder wat reeds in ‘n voltydse hoedanigheid diens doen en wat addisionele ure bo en behalwe sy normale roosterdag onderrig gee, word deeltyds aangestel en word ook op hierdie wyse vergoed.
Deeltydse opvoeders moet maandelikse eise indien vir vergoeding.
Sekondering
Indien dit in die belang van die onderwys is, kan die Departement na konsultasie, ‘n opvoeder wat in ‘n permanente hoedanigheid aangestel is, na enige ander pos in ‘n ander departement sekondeer vir solank as wat dit nodig geag word.
Oorplasing
Opvoeders wat in ‘n permanente hoedanigheid aangestel is, kan as gevolg van rasionalisasie, herorganisasie, her-gradering, afskaffing van ‘n pos as gevolg van vermindering van leerdergetalle, opheffing van ‘n pos as gevolg van vermindering van leerdergetalle, opheffing van inrigtings en verandering van vakrigtings, addisioneel tot die diensstaat word. Na oorlegpleging kan ‘n opvoeder in ‘n permanente hoedanigheid na ‘n ander pos, in lyn met nasionaal ooreengekome kollektiewe ooreenkomste en bepaalde wetgewing, oorgeplaas word.
Vereistes vir aanstelling in ‘n permanente hoedanigheid
Bewyse van die neergelegde minimum kwalifikasies, registrasie by SARO, en toepaslike onderwyservaring moet verskaf word. Voorskrifte ten opsigte van benodigde dokumentasie verskyn telkens in die provinsiale vakaturelyste.
Advertering van vakatures
Vakante permanente poste word deur die betrokke provinsiale onderwysdepartement in vakaturelyste geadverteer, en gevul in terme van voorskrifte vervat in wetgewing en beleid.
Bevorderingsgeleenthede
Vereistes vir elke bevorderingspos is gekoppel aan minimum kwalifikasies en onderwyservaring. Die opvoederkorps lewer volgens die poste wat hulle beklee, diens op 6 posvlakke waarvan posvlakke 5 en 6 hoofsaaklik hoofkantoor- en hulpdiensgekoppelde poste is.
Vir verdere besonderhede kan met die naaste Streekkantoor van die SAOU geskakel word.
Vergoeding
Salaris
Met die ondertekening van Kollektiewe ooreenkoms 1 van 2008 wat die Beroepspesifieke bedeling vir opvoeders in werking gestel het, het die salarisstrukture verander.
Sodra die taakspanne se werk afgehandel is, sal die nuwe salarisstrukture aan lede gekommunikeer word.
Kontak u SAOU-kantoor.
Diensbonus
‘n Diensbonus of pro rata-diensbonus gelykstaande aan 100% van een maand se salaris is betaalbaar aan ‘n opvoeder/amptenaar by verstryking van ‘n tydperk van 12 maande of ‘n gedeelte daarvan eindigende op die laaste dag van die maand waarin die opvoeder/amptenaar verjaar.
Geen pro rata-diensbonus word by bedanking aan ‘n opvoeder betaal nie.
Enige onbetaalde verlof, asook kontinuïteitsverlof wat gedurende die 12 maande wat die betaaldatum voorafgegaan het, toegestaan is, word by die bepaling van die bedrag van die diensbonus in berekening gebring.
Behuisingskema
Staatswaarborgskema
Hierdie skema stel persone wat nie oor die nodige fondse ter betaling van die verpligte deposito beskik nie, in staat om eiendom te bekom.
Om vir die minimumvereistes te kwalifiseer, moet ‘n opvoeder minstens 21 jaar oud, een jaar aaneenlopende bevredigende diens hê, en tot die Staatsdienspensioenfonds bydra.
Die werknemer se jaarlikse salariskerf bepaal die grootte van die 100%-lening wat toegestaan kan word. Navrae in hierdie verband kan aan die naaste kantoor van die SAOU gerig word.
Behuisingstoelaag
‘n Behuisingstoelae word betaal vir persone wat huur of loseer, of reeds ‘n geregistreerde afbetaalde eiendom besit, volgens bepaalde riglyne.
Hierdie skema funksioneer onafhanklik van die 100% behuisingleningskema en is van toepassing op persone wat permanent of tydelik voltyds aangestel is en tot die pensioenfonds bydra. In beide gevalle moet aansoekers ‘n verbandlening by ‘n erkende finansiële instelling bekom, die woning self bewoon en aan die voorgeskrewe vereistes ten opsigte van registrasie van eienaarskap voldoen.
Behuisingstoelaes word ook betaal in gevalle van okkupasiehuur; ‘n huurooreenkoms vir ‘n woning aangegaan - met ‘n agent of familie; of ‘n woning betrek met toestemming van ‘n tradisionele leier. Tans word toelaes van R500 per maand betaal vir bg bewoning. Riglyne en aansoekvorms is beskikbaar by www.dpsa.gov.za.
Let wel: Tydelike opvoeders aangestel vir ‘n tydperk korter as 6 maande, of aangestel as ‘n plaasvervanger, kwalifiseer vir ‘n nie-pensioendraende toelaag wat gelyk aan 37% van die basiese salaris sal wees, ten einde te kompenseer vir die verlies aan diensbonus, mediese subsidie, behuisingstoelaag en lidmaatskap van die pensioenfonds.
BETALING VAN VERBLYF-, REIS- EN HERVESTIGINGSKOSTE
Verblyftoelae
Die doel hiervan is om ‘n opvoeder vir sy verblyfkoste te vergoed terwyl hy van sy hoofkwartier in amptelike diens afwesig is.
Reistoelae
Reistoelae word aan ‘n opvoeder betaal van wie dit vereis word dat hy in die uitvoering van sy amptelike pligte weg van sy hoofkwartier moet reis.
Hervestigingskoste
Die uitgawe verbonde aan die hervestiging van ‘n huishouding word in die volgende gevalle aan ‘n opvoeder wat in ‘n permanente hoedanigheid aangestel word, betaal onderhewig aan departementele bepalings:
a) Indien hy oortollig raak en permanent in ‘n ander onderwyspos oorgeplaas word.
b) Indien hy deur die Departement permanent oorgeplaas word.
c) By aanstelling in ‘n bevorderingspos in ‘n hoër posvlak.
Verhuisingskoste
(Oorplasing van meubels en voertuie) word betaal:
a) By eerste aanstelling in ‘n permanente onderwyspos.
b) Indien ‘n persoon met pensioen uit die diens tree na minstens 10 jaar aaneenlopende diens.
c) Indien die persoon te sterwe kom na voltooiing van minstens 10 jaar aaneenlopende diens aan die afhanklikes wat na ‘n ander woonplek verhuis.
VERLOFMAATREëLS VIR OPVOEDERS
Die verlofvoordele van ‘n opvoeder word deur Hoofstuk J van die Personeeladministrasiemaatreëls (PAM) gereël en kan soos volg opgesom word:
Gesinsverantwoordelikheid en verlof vir dringende privaatsake
Daar word aan ‘n opvoeder 3 werksdae per jaarlikse verlofsiklus toegestaan in gevalle van siekte van ‘n opvoeder se kind of eggenote of waar die eggenote geboorte aan ‘n kind skenk, en 5 werksdae in gevalle waar die opvoeder se kind, eggenote of naaste familielede te sterwe kom. Die totaal hiervan mag egter nie 5 werksdae oorskry nie. ‘n Opvoeder mag bo en behalwe hierdie toekennings, jaarlikse verlof vir dringende privaatsake neem. Die totale aantal dae verlof wat in hierdie breë kategorie geneem mag word, is maksimum 12 werksdae per jaar. Hierdie verlof word altyd met volle besoldiging toegeken. Alle ongebruikte dae verval aan die einde van die kalenderjaar. Bewyse moet aangeheg word.
Spesiale verlof vir professionele en persoonlike ontwikkeling en vir godsdienstige geleenthede
Spesiale verlof met volle betaling kan toegestaan word aan opvoeders in gevalle waar die aktiwiteite sy/haar professioneel sal ontwikkel, of waar dit oor persoonlike ontwikkeling handel wat ook in belang van die werkgewer is, of vir godsdiensbeoefening. ‘n Maksimum van 3 werksdae per jaar kan vir hierdie doel toegestaan word.
Siekteverlof
* 36 werksdae word in ‘n siklus van drie jaar toegeken. Die nuwe siekteverlofsiklus het op
1 Januarie 2010 begin.
* Alle ongebruikte dae verval aan die einde van die siekteverlofsiklus.
* Vir siekteverlof van drie dae en meer word ‘n mediese sertifikaat vereis.
* ‘n Toesighouer mag egter van ‘n opvoeder ‘n mediese sertifikaat vereis indien ‘n opvoeder vir ‘n derde dag binne ‘n agt weke siklus afwesig is a.g.v. siekte; of indien ‘n vasgestelde patroon vir die neem van siekteverlof voorkom.
Verlof vir tydelike ongeskiktheid
Wanneer ‘n KS-opvoeder se normale siekteverlof in ‘n bepaalde siekteverlofsiklus uitgeput is en sy mediese praktisyn/tandarts is van mening dat die KS-Opvoeder tydelik ongeskik is weens siekte, mag addisionele siekteverlof toegestaan word op voorwaarde dat:
* die KS-Opvoeder se toesighouer bewus is van die siektetoestand.
* die betrokke mediese praktisyn/tandarts sertifiseer dat die ongeskiktheid tydelik van aard is.
* vorms volgens die PILIR-stelsel voltooi word.
Permanente ongeskiktheid
* Indien ‘n KS-Opvoeder se graad van ongeskiktheid, permanent van aard is, kan die betrokke
uitvoerende gesag ‘n addisionele 30 werksdae betaalde siekteverlof aan die KS-Opvoeder toe- staan of die aantal dae wat nodig mag wees om te bepaal of dit sinvol is om:
(i) ‘n alternatiewe werksaanbod te maak, of
(ii) die omstandighede en pligte van die KS-Opvoeder so aan te pas om sy/haar ongeskiktheid te akkommodeer.
* Indien die KS-Opvoeder sowel as die werkgewer egter oortuig is dat die KS-Opvoeder geensins in staat is om enige verdere werk of pligte uit te voer nie, kan die KS-Opvoeder voortgaan om aansoek te doen vir vervroegde aftrede as gevolg van voortdurende swak gesondheid.
* vorms volgens die PILIR-stelsel moet voltooi word.
Verlof op beroepsongelukke of -siektes
‘n KS-Opvoeder wat weens ‘n besering aan diens afwesig is, ontvang spesiale siekteverlof ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes, 1993, mits die besering volgens die bepalings van die Wet aanhangig gemaak is. Let asseblief daarop dat dit verpligtend is om ‘n besering aan diens te rapporteer. Versuim om ‘n besering aan te meld, is strafbaar.
Bevallingsverlof
* ‘n KS-Opvoeder is geregtig op 4 kalender maande aaneenlopende betaalde bevallingsverlof vir elke swangerskap. (Dit sluit naweke en skoolvakansies in.)
* ‘n KS-Opvoeder se bevallingsverlof moet ten minste 14 dae voor die verwagte bevallingsdatum, maar nie later nie as die datum van bevalling (in gevalle van vroeë geboorte) ‘n aanvang neem.
* ‘n KS-Opvoeder wat ‘n miskraam het, wie se kind dood is by geboorte of wie se swangerskap beëindig
word, is geregtig op ses weke betaalde bevallingsverlof na die miskraam of doodgeboorte mits die KS-Opvoeder ten tyde van die miskraam of doodgeboorte reeds met betaalde bevallingsverlof
was.
* Indien ‘n opvoeder wat reeds op bevallingsverlof is se baba as gevolg van ‘n premature geboorte
of ‘n siektetoestand vir langer as ‘n maand gehospitaliseer word, kan so ‘n opvoeder die werkgewer
versoek om haar bevallingsverlof te onderbreek en tydelik terugkeer na haar werkplek.
* Geen opvoeder sal egter toegelaat word om haar normale pligte op te neem voordat ten minste ses weke na die geboorte van die baba verloop het nie, of ‘n geregistreerde mediese praktisyn gesertifiseer het dat die opvoeder mag terugkeer om haar normale pligte te vervul.
Verlof vir aanneming van ‘n kind
* Indien ‘n KS-Opvoeder ‘n kind onder die ouderdom van 2 jaar aanneem, kwalifiseer hy/sy vir 45 werksdae aannemingsverlof.
* Indien beide die ouers in diens van die Staat is, kan beide vir aannemingsverlof kwalifiseer mits beide se aantal dae verlof gesamentlik nie die totaal van 45 dae oorskry nie.
Spesiale verlof
Spesiale verlof met volle salaris kan in sekere omstandighede toegestaan word:
1. Spesiale verlof vir studie
Spesiale verlof mag aan ’n opvoeder toegestaan word vir ‘n goedgekeurde studierigting en wel op voorwaardes soos goedgekeur deur die werkgewer. Studieverlof kan met of sonder of teen gedeeltelike besoldiging toegestaan word.
2. Spesiale verlof vir eksamendoeleindes
Vir elke dag eksamen wat afgelê word in ‘n goedgekeurde toepaslike studierigting, word ‘n addisionele skooldag as eksamenverlof met volle besoldiging toegestaan.
3. Spesiale verlof vir deelname aan sport/kulturele en ander aktiwiteite
Met die goedkeuring van die Hoof van die Provinsiale Onderwysdepartement kan verlof met of sonder volle besoldiging aan ‘n opvoeder toegestaan word om aan sport, kulturele of ander soortgelyke aktiwiteite deel te neem. Dit sluit onder andere in:
(a) om deel te neem aan sportbyeenkomste;
(b) om op te tree as beampte/skeidsregter;
(c) om op te tree as aanbieder of groepsleier van ‘n kursus;
(d) bywoning van kursusse, vergaderings of ander byeenkomste soos goedgekeur deur die werkgewer.
Verlof vir ampsdraers en vakbondverteenwoordigers
Ampsdraers of vakbondverteenwoordigers kan tot ‘n maksimum van 12 dae betaalde verlof per jaar ontvang vir aktiwiteite wat verband hou met sy vakbond of sy posisie wat hy in sy vakbond beklee. Gewone lede kwalifiseer vir 8 ure per jaar.
Verlofgratifikasie
Die gekontroleerde verlof sal na ouditering uitbetaal word teen die eindsalaris wanneer die opvoeder aftree (voortydig, met mediese redes, by uitdiensstelling), of afsterf.
By bedanking of die keuse van aktuariële waarde word geen verlofgratifikasie uitbetaal nie.
Voor die ouderdom van 55 jaar word die hele verlofgratifikasie belas, maar na 55 jaar is R30 000 belastingvry.
MEDIESE BYSTAND
Mediese bystand word deur die Staat gesubsidieer vir persone in permanente poste en tydelike poste langer as 3 maande. Maksimum bedrag ter sprake, wat van tyd tot tyd hersien word. Navrae hieroor kan aan die naaste kantoor van die SAOU gerig word.
By aftrede word die mediese bystand voortgesit indien die opvoeder hooflid was vir ten minste 1 jaar voor aftrede en ten minste 15 jaar diens in die Staat (nie noodwendig aaneenlopend) verrig het. In geval van mediese ontslag moet die lid minstens 10 jaar diens gelewer het.
WERKSURE
Die voorskrifte met betrekking tot die werksure van ‘n opvoeder bepaal onder meer soos volg:
* ‘n Opvoeder moet minstens 7 uur per dag by sy werkplek wees.
* ‘n Opvoeder moet verantwoording vir minstens 1800 werksuur per jaar kan doen.
* Die werkgewer is onder bepaalde voorwaardes geregtig om tot ‘n maksimum van 80 uur per jaar buite die formele skooldag of gedurende skoolvakansies vir professionele ontwikkeling van ‘n opvoeder te vereis.
‘n Opvoeder kan nie aanspraak maak op addisionele besoldiging vir enige diens of werk wat hy deur ‘n bevoegde gesag aangesê word om te verrig nie. Hy mag voorts nie met of sonder besoldiging buite die onderwysinrigting werk verrig sonder vooraf goedkeuring van die werkgewer nie.
BEëINDIGING VAN DIENS
‘n Opvoeder wat in ‘n permanente of tydelike hoedanigheid diens doen, moet 90 dae kennis gee van sy voorneme om te bedank. Die werkgewer mag egter goedkeur dat ‘n bedanking met korter kennisgewing aanvaar word.
Die werkgewer kan die diens van ‘n opvoeder beëindig:
a) as hy aan voortdurende swak gesondheid onderhewig is;
b) weens onbekwaamheid of wangedrag;
c) aan die einde van die maand waarin hy die voorgeskrewe verpligte aftree ouderdom van 65 jaar
bereik.
d) indien hy na die mening van die werkgewer nie in die onderwyspos wat hy beklee, kan aanbly
nie, as gevolg van omstandighede wat ‘n nadelige uitwerking op die onderwysinrigting of die onderrig van die leerlinge/studente het;
e) in die geval van reorganisasie of posafskaffing moet aan ‘n opvoeder 90 dae kennis van
diensbeëindiging deur die werkgewer gegee word. In die geval van aftrede met pensioen, moet
‘n opvoeder 90 dae kennis gee en kan die aftrede aan die einde van enige maand na bereiking
van aftree-ouderdom geskied.
PENSIOENAANGELEENTHEDE RAKENDE PERMANENTE PERSONEEL
Pensioenbydraes
Opvoeders wat tot die pensioenfonds toegelaat word, dra 7,5% van hul salaris tot die Regeringsdienspensioenfonds by.
Uitdienstreding op mediese gronde
In ‘n geval van langdurige siekte kan die Onderwyshoof bepaal dat ‘n opvoeder met pensioen uit die diens tree of die opvoeder kan dit op die voorgeskrewe wyse self versoek. Sy pensioenvoordele word volgens die formules wat later verskaf word, bereken. Die Onderwyshoof handel op aanbeveling van die aangewese Gesondheidsrisiko Bestuurder.
Pensioenuitbetalings uit die Regeringsdienspensioenfonds
Vir die doel van die berekening van alle formules word “eindsalaris” gedefinieer as die gemiddelde salariskerf bereken oor die laaste 24 maande van die lid se diens.
1. Uitdiensstelling (minder as 10 jaar pensioengewende diens)
Indien ‘n lid met minder as 10 jaar pensioengewende diens om die volgende redes uit diens gestel
word :
(a) gesondheidsredes nie deur eie toedoen;
(b) afskaffing of herorganisasie van die pos;
(c) indien uitdiensstelling effektiwiteit, ens. vir die Departement sal meebring;
(d) onbevoegdheid om take effektief uit te voer, uitgesluit sake van wangedrag; of
(e) ‘n besering of swak gesondheid nie deur eie toedoen veroorsaak ten tye van, of as gevolg van
‘n lid se diens,
word ‘n gratifikasie uitbetaal wat soos volg bereken word:
15,5 x eindsalaris x pensioengewende diensjare
100
Hierdie bedrag word met ‘n derde vermeerder, behawe in die geval van (d) hierbo, naamlik onbe-
voegdheid om take effektief uit te voer.
2. Uitdiensstelling (10 jaar en meer pensioengewende diens)
Indien ‘n lid met 10 jaar en meer pensioengewende diens om die redes bedoel
in (1) hierbo uit die diens gestel word, word die volgende aan hom uitbetaal:
(a) ‘n Gratifikasie soos volg bereken:
6,72 x eindsalaris x pensioengewende diensjare
100
(b) Jaargeld soos volg bereken :
1 x eindsalaris x pensioengewende diensjare 55 + R360
Vir die doel van die redes in 1 genoem, behalwe 1(d), naamlik onbevoegdheid, word een derde van die tydperk van pensioengewende diens tot ‘n maksimum van 5 jaar, of die verskil tussen die
persoon se ouderdom en die ouderdom van 60 jaar, wat ookal die kleinste is, gevoeg.
3. Aftrede (minder as 10 jaar pensioengewende diens)
Indien ‘n lid met minder as 10 jaar pensioengewende diens aftree :
(a) op of na sy aftree-ouderdom;
(b) voor sy aftree-ouderdom in terme van die Wet wat sy diensvoorwaardes reguleer; of
(c) as gevolg van die verstryking van die dienskontrak,
word ‘n gratifikasie uitbetaal gelykstaande aan die aktuariële waarde van die lid se pensioen.
4. Aftrede (10 jaar en meer pensioengewende diens)
4.1 Indien ‘n lid met meer as 10 jaar pensioengewende diens aftree om ‘n rede soos in 3 hierbo genoem, word die volgende aan hom/haar uitbetaal :
(a) ‘n Gratifikasie soos volg bereken :
6,72 x eindsalaris x pensioengewende 100 diensjare
(b) Jaargeld soos volg bereken :
1 x eindsalaris x pensioengewende
55 diensjare +R360
4.2 Indien ‘n lid die ouderdom van 50 bereik het, maar nog nie die ouderdom van 60 nie, word bogemelde voordele verminder met .33% vir elke maand tussen die lid se werklike ouderdom en 60 jaar.
4.3 Lede se aandag word daarop gevestig dat slegs opvoeders wat voor
1 Mei 1996 aangestel is en meer as 10 jaar pensioengewende diens het tussen die ouderdom
50 en 55 kan aftree. (Bg. verminderde voordele by 4.2 geld steeds)
5. Bedanking
‘n Bedankingsvoordeel word volgens die volgende formule bereken :
Aantal pensioengewende diensjare x eindsalaris x 7,5%.
‘n Lid wat 6 jaar diens het, se voordeel word met 10% verbeter, 7 jaar diens met 20% ens, sodat
‘n opvoeder wat 15 en meer jare diens het, se voordeel met 100% verbeter word.
’n Lid kan versoek dat ’n bedrag gelyk aan die aktuariële waarde, bereken volgens die formule wat daarop van toepassing is, oorgeplaas word na ‘n goedgekeurde uittreefonds of bewaringsfonds met bedanking. Navrae in hierdie verband kan aan die naaste kantoor van die SAOU gerig word.
‘n Lid verloor die volgende voordele met bedanking, nl.verlofkrediet, pro rata-diensbonus en
mediese- en huissubsidie en begrafnisvoordele.
6. Voordele met die afsterwe van ‘n lid
6.1 Lede met minder as 10 jaar pensioengewende diens: ‘n Gratifikasie is betaalbaar gelykstaande
aan die grootste van die lid se aktuariële waarde en sy eindsalaris.
6.2 Lede met meer as 10 jaar pensioengewende diens, die volgende is betaalbaar:
(a) ‘n Gratifikasie soos volg bereken :
6,72 x eindsalaris x pensioengewende 100 jare
(b) Vyf maal die jaargeld wat hy sou ontvang het indien hy/sy sou aftree, bereken soos volg:
5 x 1 x eindsalaris x pensioengewende 55 diensjare +R360
Vir die doel van die berekening van bogemelde twee gratifikasies word een derde van die tydperk van pensioengewende diens tot ‘n maksimum van 5 jaar of die verskil tussen die persoon se ouderdom en die ouderdom van 60 jaar, wat ookal die kleinste is, by sy diensjare
gevoeg.
6.3 Gadepensioen
Indien ‘n lid oorleef word deur ‘n gade, word ‘n gadepensioen betaal wat gelykstaande is aan die helfte van die jaargeld wat die lid sou ontvang indien hy sou aftree op ouderdom 60 jaar.
7. Voordele met die afsterwe van pensioentrekkers
7.1 Indien ‘n pensioentrekker te sterwe kom binne 5 jaar na aftrede, word ‘n voordeel aan die gade
of afhanklikes betaal, gelykstaande aan die som van die jaargeld wat aan hom betaalbaar is, soos bereken vanaf die eerste dag van die maand wat volg op sy dood tot en met die laaste dag van die maand waarin die gemelde tydperk van 5 jaar verstryk. Die formule is soos volg:
1 x eindsalaris x pensioengewende diensjare x
55 12 onverstroke maande van 5 jaar
7.2 Indien ‘n pensioentrekker oorleef word deur ‘n gade, word ‘n gadepensioen betaal gelyk-
staande aan die helfte van die jaargeld wat die pensionaris ontvang het ten tye van sy dood tensy die pensioentrekker tydens aftrede ‘n keuse gemaak het vir ‘n verminderde maandgeld of
‘n verminderde jaargeld. In laasgenoemde twee gevalle (verminderde maandgeld of vermin-
derde jaargeld) word 75% van die maandelikse pensioen as gadepensioen betaal.
8. Belasting op Pensioenvoordele
8.1 Pensioengratifikasies (Bedankingsvoordeel ingesluit)
Belasting op pensioengratifikasie (enkelbedrae) word met ingang van 1 Maart 1998 ingefaseer
en word op voltooide diensjare bereken. Daar is egter vryskeldingsbedrae betrokke by die verskillende wyses van uittrede.
8.2 Maandelikse Pensioen
Maandelikse pensioenvoordele word volgens die normale belastingskale belas. Vir verdere besonderhede kan met die naaste Provinsiale kantoor van die SAOU geskakel word.
9. Betaling van Begrafnisvoordele
Met ingang van 1 Desember 2002 kwalifiseer die volgende lede vir die uitbetaling van ‘n enkelbedrag begrafnisvoordeel by die afsterwe van:
1. ‘n dienende, bydraende lid van die RWPF (R7 500);
2. ‘n pensioenaris wat eers vanaf 1 Desember 2002 uit diens getree het (R7 500);
3. ‘n gade/lewensmaat van 1 of 2 hierbo (R7 500) en
4. ‘n afhanklike benoembare kind van 1 of 2 hierbo (R3 000).
5. Stilgeboorte op voorwaarde dat die moeder ten minste 26 weke of langer swanger was.
Vir verdere besonderhede kan met die naaste Provinsiale kantoor van die SAOU geskakel word.
TERUGDATERING VAN PENSIOENGEWENDE DIENS
Lede kan hul pensioengewende diens laat vermeerder deur terugdatering daarvan tot hul agtiende verjaardag, of deur enige ander tydperk na die agtiende verjaardag. Die terugkoopbedrag is tans egter baie hoog. Vorm Z215 word vir die doel gebruik.
Vorige pensioengewende diens na bedanking kan teen ‘n gunstige tarief teruggekoop word, mits die opvoeder binne 36 maande na diensverlating weer tot die Fonds toegelaat word, en die aansoek vir terugkoop binne 12 maande na hertoelating gedoen word.
WERKLOOSHEIDSVERSEKERINGSFONDS
Die amptelike bepaling is dat ‘n persoon wat tot die pensioenfonds bydra nie ook tot die werk-loosheidsversekeringsfonds mag bydra nie. Persone wat wel bydra, moet navrae ten opsigte van prosedure en voorstelle aan die naaste kantoor van die Departement Arbeid rig.
DEPARTEMENTELE KOSHUISE
Waar departementele koshuise aan skole verbonde is, kan die werkgewer vereis dat onderwyspersoneel in sodanige koshuise inwoon en toesigdiens verrig.
Toesigdiens het hoofsaaklik te doen met die opvoedkundige program wat deur kosgangers gevolg word. Aan toesighoudende personeel word, volgens die goedgekeurde diensstaat vir koshuise, ‘n nie-pensioendraende toelae betaal as vergoeding vir die bykomende pligte wat koshuisdiens meebring.
Toesighoudende personeel wat van koshuisakkommodasie gebruik maak, betaal die vasgestelde tarief vir losies en inwoning.
LANGDIENSERKENNING
Erkenning vir bevredigende ononderbroke diens word in die volgende gevalle verleen :
Twintig jaar ononderbroke diens: ‘n sertifikaat en die vergunning om 10 dae vakansieverlofkrediet te laat uitbetaal.
Dertig jaar ononderbroke diens: ‘n sertifikaat, die vergunning om 15 dae vakansieverlofkrediet te laat uitbetaal, asook ‘n bedrag van R3994-00.
Aansoeke vir bogemelde moet per brief/voorgeskrewe vorm aan die Departement gerig word.
Opvoeders wat beplan om af te tree, moet kennis neem dat verlofkrediet met aftrede teen die laaste salariskerf bereken word. Dit is dus baie voordelig om te wag tot aftrede.
Waarnemingstoelae (RAVO-Resolusie 8 van 2001 soos vervat in die PAM)
Die waarnemingstoelae sal betaal word in gevalle waar ‘n persoon in ‘n vakante pos waarneem wat 1 posvlak hoër is as die persoon se huidige posisie. Uitsonderings mag egter deur provinsiale onderwysowerhede gemaak word.
Die werkgewer moet ‘n persoon skriftelik in kennis stel om waar te neem na aanbeveling deur die beheerliggaam van die skool alvorens die waarnemingstoelae betaalbaar is. Die beheerliggaam moet binne 14 dae na kennisgewing vanaf die werkgewer so ‘n aanbeveling doen.
Die toelae sal slegs betaal word indien die aanstelling langer as 6 weke is en sal vir ‘n maksimum tydperk van 12 maande betaal word.
Betaling sal terugwerkend wees tot die datum waarop die opvoeder begin het om in die pos waar te neem.
Die bedrag betaalbaar is die verskil tussen die persoon se huidige salaris (sonder voordele) en die aanvangskerf van die hoër pos (sonder voordele). In alle gevalle sal dit minstens een salariskerf beloop.
Waarnemingstoelae (RAVO-Resolusie 8 van 2002 soos vervat in die PAM)
Met ingang van 1 April 2003 word ‘n waarnemingstoelaag ook betaal as die bekleër van die pos vir langer as 12 weke maar beperk tot ‘n maksimum van 12 maande afwesig is as gevolg van:
(i) bevallingsverlof
(ii) siekteverlof
(iii) studieverlof
(iv) skorsing
(v) sekondering
BESERING AAN DIENS
Alle opdragte wat ‘n opvoeder uitvoer as deel van die binne- sowel as buitekurrikulêre program van die betrokke inrigting, word as amptelike pligte geag. Beserings van watter aard ookal, ook in die geval van dood, wat ‘n opvoeder opdoen in die uitvoering van hierdie pligte, moet dadelik deur die opvoeder aan die hoof van die inrigting gerapporteer word. In so ‘n geval word vorm W.CL. 2(E) voltooi. Indien ‘n opvoeder in die uitvoering van sy pligte te sterwe kom, moet die afsterwe onmiddelik deur sy direkte hoof gerapporteer word.
SKOOLBEHEERLIGGAAMAANSTELLINGS
Werkgewer
Die Beheerliggaam van die betrokke skool is die werkgewer.
Die Onderlinge Werkgewer-werknemerverhouding:-
· Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en die Wet op Arbeidsverhoudingereguleer die verhou-
ding tussen die werknemer en die werkgewer.
· Die dienskontrak vorm die basis van die werkgewer-werknemerverhouding
Dit is noodsaaklik om te besef dat die diensverhouding en die dienskontrak nie gebaseer is op ‘n gelyke magsbasis nie – die werkgewer is in ‘n sterker posisie om te beding. Die werkgewer moet finansiële en ander hulpbronne in ag neem en dikteer dus grootliks die bepalings soos vervat in die dienskontrak.
Dienskontrak
‘n Voorvereiste vir die sluiting van ‘n dienskontrak is wilsooreenstemming tussen beide partye. Dit is dus ’n vrywillige ooreenkoms tussen twee partye, waar die een party ( die werknemer) sy/haar arbeidspotensiaal tot die beskikking en beheer stel van die ander party (die werkgewer) in ruil vir vergoeding deur die werkgewer.
· Alhoewel die Wet op Indiensneming van Opvoeders slegs van toepassing is op opvoeders
in diens van die staat, behoort die bepalings soos omskryf in die Wet met betrekking tot die
diensvoorwaardes, diensvoordele, posbeskrywing en pligstaat van die werknemer tydens die sluiting van ‘n dienskontrak met die opvoeder in ag geneem te word.
· Die bepalings en diensvoorwaardes, soos ooreengekom tussen deur die werkgewer en werknemer, kan nie eensydig deur een party gewysig word nie.
Dienskontrak: Bepalings en Diensvoorwaardes
Minimum Diensvoordele
Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes stel die minimum diensvoorwaardes en –voordele waaraan die werkgewer moet voldoen, om sodoende alle werknemrs te beskerm.
Die werkgewer is verplig om aan die volgende vereistes van die Wet te voldoen:-
1. WERKLOOSHEIDSVERSEKERINGFONDS (WVF)
Die werkgewer (BL) sowel as die werknemer (opvoeder) is verplig om elk 1% van die vergoeding van die opvoeder tot die fonds by te dra. Die verpligting rus op die werkgewer om die totale bedrag van die bydrae (2% van die salaris van die opvoeder) aan die WVF te betaal.
2. VERLOF
2.1. Siekteverlof
• ‘n Siekteverlofsiklus is ‘n tydperk van 36 maande by dieselfde werkgewer. Gedurende elke siekteverlofsiklus is ‘n werknemer geregtig op 6 weke betaalde siekverlof.
• Gedurende die eerste 6 maande is ‘n werknemer geregtig op 1 dag siekteverlof vir elke 26 dae gewerk.
• Dienskontrakte vir beheerliggaamaanstellings word normaalweg jaarliks onderhandel. In die praktyk impliseer dit 10 dae siekteverlof per jaar.
• Die werkgewer is nie verplig om ’n werknemer te betaal indien die werknemer:
(i) meer as twee opeenvolgende dae afwesig is; of
(ii) meer as twee keer in ‘n agt weke periode afwesig van werk is en nie ‘n mediese sertifikaat indien as bewys dat die werknemer nie geskik was om te werk nie.
2.2 Kraamverlof
‘n Werknemer is geregtig op minstens vier aaneenlopende maande kraamverlof. Neem kennis dat die WBDV slegs voorsiening maak vir kraamvoordele (vergoeding) soos bepaal deur die Werkloosheidsversekeringwet. Die Wet op Arbeidsverhoudinge ag dit as outomatiese onbillike ontslag indien ’n swanger werknemer ontslaan word as gevolg van
• haar swangerskap
• haar beoogde swangerskap
• enige rede verwant aan haar swangerskap.
2.3 Gesinsverantwoordelikheidsverlof
Die WBDV bepaal dat ‘n werknemer geregtig is op drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof per jaar teen volle betaling. ‘n Werknemer is geregtig om hierdie verlof te neem, tydens:
• die geboorte, siekte of afsterwe van ’n kind; en
• die afsterwe van ‘n gade of lewensmaat, ouer of ander direkte familielede.
Die werknemer moet - waar haalbaar - met die werkgewer onderhandel vir diensvoordele in ooreenstemming met die voordele van opvoeders in diens van die staat soos vervat in die Wet op Indiensneming van Opvoeders. Die werknemer moet egter besef dat onderhandeling binne ‘n beperkte raamwerk plaasvind en verwagtinge moet realisties wees.
1. Verlof (skoolvakansies uitgesluit)
Onderhandel vir ooreenstemmende verlofmaatreëls soos van toepassing vir departementele aanstellings. Verwys spesifiek na :
• Gesinsverantwoordelikheidsverlof (daar is wesenlike verskille in die bepalings);
• spesiale verlof vir dringende privaatsake; asook
• bevallingsverlof teen volle betaling.(BL betaal salaris minus WVFbetaling)
2. Vergoeding
2.1 Salaris
Die werknemer (opvoeder) moet hom/haar vergewis van die salariskerf. Indien die werkgewer bereid is om ‘n salaris ooreenstemmend met die van die onderwysdepartement te betaal, rus die onus op die werknemer om bewyse te kan verskaf ter vasstelling van die salariskerf. Beheerliggame is in die algemeen bereid om salarisse (ander monetere vergoeding uitgesluit) ooreenstemmend met die van die onderwysdepartement te betaal.
2.2 Vergoeding Addisioneel Tot Die Ooreengekome Maandelikse Salaris
- Onderhandel (waar haalbaar) vir individuele voordele bv diensbonus, en toelaes vir pensioen, medies en behuising.
Beëindiging van die Dienskontrak
Die kontrak word outomaties beëindig sodra die ooreengekome tydperk verstryk. Neem kennis dat hierdie soort kontrak uitdruklik of stilswyend hernu kan word.
Indien die werkgewer nie die vaste-termyn kontrak hernu nie en die werknemer ‘n ‘redelike’ verwagting gekoester het dat die kontrak hernu sal word, rus die bewyslas op die werknemer om te bewys dat die verwagting van ‘n verlengde kontrak redelik was. Die werkgewer moes die indruk geskep het dat sodanige verwagting geregverdig is. Hoe meer keer die kontrak hernu is, hoe groter is die gewig wat geheg sal word aan die ‘redelike’ verwagting.
Dienssertifikaat
(noodsaaklik vir erkenning van ervaring by toetrede of hertoetrede tot openbare onderwys)
Die WBDV bepaal dat ‘n werknemer na diensbeëindiging geregtig is op ‘n dienssertifikaat wat verskeie diensbesonderhede aantoon. Die toon onder andere die naam van die werknemer, die naam van die werkgewer, die datum van diensaanvaarding en diensbeëindiging, die werknemer se posbenaming en die werknemer se vergoeding op datum van diensbeëindiging. Op versoek van die werknemer kan die rede vir diensbeëindiging ook gemeld word.
Erkenning Van Ervaring
• Werklike Onderwys Ondervinding:
Die ondervinding behels werklike ondervinding wat ’n opvoeder opgedoen het in ’n onderwys pos binne en buite die openbare onderwyssektor.
• Toepaslike Ondervinding
Die ondervinding verwys na werkservaring wat volgens die oordeel van die wergewer die kandidaat direk en toepaslik ontwikkel het vir ’n onderwyspos.
• Die Omvang Van Erkenning:
(a) Werklike onderwys ondervinding – volle erkenning.
(b) Toepaslike ondervinding – volle erkenning.
DIENSVOORWAARDES EN AANVERWANTE AANGELEENTHEDE VIR ADMINISTRATIEWE PERSONEEL
Vergoeding
Salaris
Aanpassings word jaarliks onderhandel in die SKBR deur die betrokke rolspelers, nuwe jaarlikse salariskerwe sal aan lede gekommunikeer word sodra kollektiewe ooreenkoms bereik is.
Kontak u SAOU-kantoor.
Verlofmaatreëls vir Administratiewe Personeel
Vakansieverlof vir administratiewe personeel by skole en opleidingsentrums
Werknemers kwalifiseer vir 27 werksdae vakansieverlof gedurende die verlofsiklus van 12 maande wat strek vanaf 01 Januarie van die betrokke jaar. Oorblywende verlof, indien enige, moet nie later nie as 6 maande na die huidige verlofsiklus verval het geneem word, enige verlof nie geneem nie sal dan verval.
Ten minste 22 van die 27 werksdae moet in skoolvakansies geneem word, die ander 5 dae mag in skooltyd geneem word. ‘n Werknemer kan behalwe sy 27 dae verlof ook tyd vry kry gedurende skoolvakansies, behalwe in buitengewone omstandighede waar dit die dienslewering van die instansie kan beïnvloed.
Vakansieverlof vir alle ander administratiewe personeel en kantoor-gebaseerde opvoeders
Werknemers met minder as 10 jaar diens, kwalifiseer vir 22 werksdae. Werknemers met meer as 10 jaar diens, kwalifiseer vir 26 werksdae in ’n verlofsiklus. Indien ’n werknemer aangestel word gedurende ’n verlofsiklus kwalifiseer sy of hy vir ’n pro rata gedeelte. Daar word van die werknemer verwag ten minste by een aansoek om verlof 10 werksdae as aaneenlopend te neem gedurende die verlofsiklus. Die verlofsiklus is ‘n 12 maande periode.
Indien ’n werknemer aangestel was voor 1/07/1966, kwalifiseer hy of sy vir 28 werksdae.
Menslikheidsverlof
· 5 dae per jaar vir die afsterwe van ‘n direkte familielid/lewensmaat.
· 3 dae per jaar vir siekte van ‘n direkte familielid/lewensmaat.
· Die dae genoem mag altesaam nie 5 dae oorskry in ‘n jaar nie, tensy
spesiale omstandighede ontstaan en dit is dan vir die diskresie van die
Onderwyshoof.
· Indien die 5 dae opgebruik is mag die persoon van sy 27 dae vakansie-
verlof gebruik met die nodige goedkeuring van die Onderwyshoof.
Werksure
Alle Staatsdienspersoneel wat ingevolge die Staatsdienswet, 1994 aangestel is, is verplig om ’n volle 40 uur-werkweek ( etenstye uitgesluit ) te handhaaf.
Beëindiging van Diens
Alle Staatdienspersoneel wat ingevolge die Staatsdienswet, 1994 aangestel is, moet een kalendermaand kennis gee van sy/haar voorneme om te bedank. Die werkgewer mag egter goedkeur dat ’n bedanking met korter kennisgewing aanvaar word.
Die werkgewer kan diens van ’n werknemer beëindig:
· As hy/sy aan swak gesondheid onderhewig is;
· Weens onbekwaamheid of wangedrag;
· Aan die einde van die maand waarin hy die voorgeskrewe verpligte
aftree-ouderdom van 65 jaar bereik;
· Reorganisasie of herstrukturering van poste.
Pensioenvooredele
Lede van die pensioenfonds kan aansoek doen om af te tree sonder penalisasie volgens Artikel 16(6) van die Staastdienswet 1994, soos gewysig deur Wet 30 van 2007, m.a.w. Artikel 16(6) bemagtig die werkgewer om aansoeke vir vervroegde pensioen (ouderdom 55 tot 60) goed te keur sonder enige penalisasie. Let wel: Goedkeuring van bg. aansoeke is selde suksesvol, aangesien die werkgewer dan verantwoordelik is vir die penalisasie verskuldig aan die pensioenfonds.
Die Volgende Diensvoorwaardes is soos by Opvoeders
· Diensbonus
· Behuisingstoelaag
· Siekteverlof
· Verlof vir tydelike ongeskiktheid
· Verlof op beroepsongelukke of –siektes
· Bevallingsverlof
· Spesiale verlof
· Verlofgratifikasie
· Mediese bystand
· Werkloosheidsversekeringfonds
* Enige verwysing na “hy” is ook “sy”.
|