TuisSkakelsSluit aan
Rol van die SAOU Skoolverteenwoordiger tydens onderhoude
 

DIE ROL VAN DIE SKOOLVERTEENWOORDIGER AS VERTEENWOORDIGER VAN DIE SAOU TYDENS KORLYSVERGADERINGS EN ONDERHOUDE VIR DIE VULLING VAN OPVOEDERPOSTE

1.      Inleiding

Nasionale onderwysbeleid skryf voor dat geen kortlysting of onderhoude met die oog op die permanente vulling van opvoederposte mag plaasvind sonder ‘n uitnodiging aan elkeen van die erkende onderwysvakbonde (vakbonde wat sitting het in die RAVO) om ‘n verteenwoordiger as waarnemer te stuur nie.  Die doel van die maatreël is om te verseker dat die seleksieproses met die nodige deursigtigheid geskied en om te voorkom dat geen onregverdigheid, onbillike inmenging of manipulasie die integriteit van die seleksieproses skend nie.

2.      Die siftingsproses

Dit is die Onderwysdepartement se verantwoordelikheid om alle aansoeke deur te werk en om aansoekers wat nie kwalifiseer nie, te elimineer.  Alle aansoeke van kandidate wat kwalifiseer, moet na die betrokke beheerliggaam deurgestuur word.

3.      Die samestelling van die kortlys

3.1       Die beheerliggaam van die skool stel ‘n onderhoudskomitee (paneel) soos volg saam:

  • een departementele amptenaar (wat ook die plaaslike skoolhoof kan wees) as waarnemer en kenner van onderwysbeleid wat die beheerliggaam van advies sal bedien indien laasgenoemde daarvoor vra;
  • die skoolhoof indien hy/sy nie as departementele amptenaar optree nie, of indien hy/sy nie self ‘n kandidaat is nie;
  • Vier lede van die beheerliggaam, wat verkieslik minstens een opvoederlid sal insluit, mits laasgenoemde nie self ‘n applikant is nie.
  • een vakbondverteenwoordiger van elk van die erkende vakbonde wat in RAVO verteenwoordig is (slegs as waarnemers).

Die onderhoudskomitee kan ook die hele beheerliggaam wees.

3.2       Die onderhoudskomitee hanteer die kortlystingproses ooreenkomstig die volgende riglyne:

  • die kriteria wat aangewend word moet regverdig, nie-diskriminerend en in lyn met die Grondwet van die land wees;

(Die paneel bepaal self die kriteria volgens die profiel van die betrokke pos met inbegrepe van die vereistes soos vervat in die vakaturelys)

  • die kurrikulêre (operasionele) behoeftes van die skool;
  • uitskakeling van ongelykhede van die verlede;
  • die lys van kandidate wat vir onderhoude genooi word, behoort nie vyf per pos te oorskrei nie;
    • Al die betrokke partye (unies en kandidate) moet minstens 5 werksdae voor die vergaderdatum skriftelik deur die beheerliggaam van die kortlystingsvergadering en onderhoude in kennis gestel word.
    • Die onderhoudkomitee stel eers die kriteria op volgens die profiel van die pos voordat die die aansoeke oopgemaak word.
    • Alle aansoeke moet deurgewerk en bepunt word voordat die ranglys en top 5 kandidate bepaal word.  Paneel bepaal sy eie werkswyse.

 

4.      Onderhoude

 

4.1       Elke kandidaat op die kortlys moet minstens 5 werksdae vooraf skriftelik in kennis gestel word van die datum, tyd en plek van die onderhoude.

4.2       Een lid van elke erkende vakbond sowel as een departementele verteenwoordiger kan die onderhoude as waarnemers bywoon.  Ook hierdie persone moet 5 werksdae vooraf deur die beheerliggaam skriftelik in kennis gestel word.  Bewys van kennisgewing moet gelewer word.

4.3       Alle kandidate moet eenderse behandeling ontvang (similar treatment).  Die implikasie hiervan is dat kandidate dieselfde basiese kernvrae gevra word, maar nie noodwendig slaafs presies dieselfde vrae gevra word as die ander kandidate nie.  Bevoordeling van ‘n bepaalde kandidaat(e) mag egter nie plaasvind nie.

4.4       Onderhoudkomitees mag ‘n regverdige stelsel van puntetoekenning ontwerp.  Dit kan van pos tot pos verskil.

4.5       Na die onderhoude moet al vyf kandidate deur die onderhoudkomitee in rangorde geplaas word.  Waarnemers woon hierdie proses by.  Die kandidaat met die hoogste puntetelling hoef nie noodwendig deur die onderhoudkomitee eerste geplaas te word nie.

4.6       ‘n Onderhoudkomitee lê sy rangordelys aan die volle beheerliggaam voor vir bekragtiging of wysiging en finalisering voordat die eerste drie kandidate in voorkeurorde (met motivering) en alle relevante dokumentasie en notules word na die Departement deurgestuur word.  Indieningsdatum word deur die bestuursplan bepaal.  Die Hoof van die Onderwysdepartement doen die aanstelling en lê dit voor aan die Beheerliggaam tesame met hul motivering idnien hulle nie die eerste kandidaat aanstel nie.

4.7       Indien ‘n waarnemer afwesig is, gaan die proses nogtans voort, mits kennisgewing behoorlik geskied het.

4.8       ‘n Lid van die Beheerliggaam wat ‘n persoonlike belang by die proses het, moet homself/haarself van die vergaderings verskoon.

  • Die rol van die waarnemer

 

5.1       Die rol van die waarnemer is primêr om alle prosesse noukeurig waar te neem en om homself/haarself daarvan te vergewis dat regverdigheid en deursigtigheid deurgaans tydens alle prosesse geskied en dat alle kandidate volgens dieselfde kriteria beoordeel word tydens kortlysting.

5.2       Waarnemers woon alle stadia van die prosesse by en word op geen stadium deur die beheerliggaam uitgesluit nie.

5.3       Waarnemers neem nie aktief aan die prosesse deel nie, maar hou net die prosedures dop.  Neem deel indien mening gevra word oor prosedures, maar nie deelname in besluitneming of seleksie van kandidate nie.

5.4       Verkieslik behoort die skoolverteenwoordiger van die skool nie as waarnemer by sy/haar eie skool op te tree nie.

5.5       Waarnemers moet in gedagte hou dat alle inligting in verband met die prosesse vertroulik is.

6.      Hantering van besware

 

Indien ‘n vakbondverteenwoordiger ‘n ongerymdheid opmerk, sal dit
raadsaam wees om die volgende prosedure te volg:

  • bring die ongerymdheid onder die aandag van die voorsitter en vra dat dit genotuleer word;
  • stel dit aan die vergadering dat die saak met die vakbondstrukture opgeneem gaan word;
  • versoek dat ‘n kopie van die notule beskikbaar gestel word;
  • indien die benadeelde ‘n SAOU-lid is, bespreek die probleem met hom/haar;
  • raai die betrokkene aan om die provinsie se sekretaris by die Uitvoerende Sentrum te skakel, indien hy/sy van oordeel is dat die vakbond die saak verder moet voer;
  • stel onverwyld ‘n verslag op en faks/e-pos dit na die Uitvoerende Sentrum.

 

7.      Ongerymdhede waarna opgelet moet word

 

Die volgende is voorbeelde van moontlike ongerymdhede wat tydens onderhoude kan plaasvind:

7.1       Leidende vrae wat aan bepaalde kandidate gestel word met die oog daarop om sy/haar kandidatuur te bevorder/benadeel.

7.2       Ooglopende bevoordeling van ‘n bepaalde kandidaat.

7.3       Inmenging in die proses of aktiewe deelname van persone wat slegs as waarnemers die vergaderings bywoon.

7.4       Onbillike diskriminasie teen ‘n bepaalde kandidaat op grond van sy/haar ras, geslag, gestremdheid, ouderdom, swangerskap, ens.

7.5       Gelaaide vrae, veral rondom ‘n kandidaat se privaatlewe, wat  niks met die kandidaat se bevoegdheid vir die pos te doen het nie en wat daarop gemik is om die kandidaat te benadeel, soos byvoorbeeld lidmaatskap van ‘n bepaalde politieke party, vakbond, ens.

7.6       ‘n Gebrek aan objektiwiteit by ‘n onderhoudskomitee.

7.7.      Onortodokse metodes van onderhoudvoering soos byvoorbeeld groep- of paneelonderhoude waar alle kandidate gelyktydig by die onderhoudsituasie betrek word.

7.8       Die uitsluiting van die vakbondwaarnemers van bepaalde fases van die seleksieproses.

7.9       Belanghebbendes by die proses het nie betyds skriftelike kennisgewing deur die Beheerliggaam van die onderskeie vergaderings ontvang nie.

8.      Wie word deur die SAOU as waarnemers aangewend?

 

8.1       Die SAOU funksioneer tans in die RAVO in alliansie met ander vakbonde as die CTU : SAOU (CTU = Combined Trade Union met SAOU as korresponderende kantoor).  Die SAOU moet dus alle kennisgewings na sy alliansievennote deurstuur en dan gesamentlik besluit wie vir watter skole verteenwoordigers stuur.

8.2       Kennisgewings van kortlysting- en onderhoudvergaderings word deur die Uitvoerende Sentrum na die betrokke kringorganiseerder deurgestuur.

8.3       Die kringorganiseerder reël met ‘n dagbestuurslid, Provinsiale Bestuurslid of skoolverteenwoordiger (of skoolhoof wat SAOU-lid is) , wat nie self ‘n kandidaat vir die pos is nie, van ‘n skool so na as moontlik aan die betrokke skool om die vergaderings as waarnemer namens die SAOU by te woon.

8.4       Dit is verkieslik dat die waarnemer nie op die personeel van die betrokke skool moet wees nie.   Daar is egter uitsonderings.

8.5       Waar enigsins moontlik, moet die waarnemer of dieselfde posvlak of ‘n hoër posvlak as die geadverteerde pos  wees.  Daar is egter uitsonderings.

8.6       Waar moontlik moet dieselfde waarnemer beide prosesse (kortlysting sowel as onderhoude) bywoon.
           

  • Belangrikheid van die bywoning van vergaderings

 

Waar SAOU-lede by onderhoude betrokke is, is dit baie belangrik dat ‘n verteenwoordiger van die SAOU die vergaderings as waarnemer moet bywoon.  Nie alleen stel dit die kandidaat(e) gerus dat na sy/haar belange omgesien word nie, maar kan die waarnemer later ‘n baie waardevolle getuie wees in gevalle waar daar konflik rondom die onderhoude ontstaan. 

Departemente plaas ook ‘n hoë premie op bywoning, al het die SAOU nie kandidate nie.  Die beginsel wat die SAOU in hierdie opsig toepas, is:  ons woon die vergaderings by indien dit moontlik is, anders maak ons verskoning by die betrokke beheerliggaam / departementele kantoor indien dit onmoontlik is. 

NB  Ons kan slegs ‘n lid verteenwoordig as ons kennis gekry het van vergaderings!

  • Skoolverteenwoordigers word aangemoedig om sover as moontlik beskikbaar te wees as waarnemers by hul eie skole, ander skole en distrikkantore.   Dit dien as goeie ondervinding en toerusting om tot diens van lede en die SAOU te wees, maar bied ook waardevolle ervaring en voorbereiding vir eie onderhoude.

 

10.    Hantering van griewe en dispute

‘n Lid het die reg om na enige van die 3 prosesse (sifting, kortlysting, onderhoud) ‘n grief te registreer.  Alle griewe moet deur die departementele Griewe Komitee ondersoek word.  ‘n Grief kan afgewys word (dan gaan die proses voort) of ‘n grief kan gestand gedoen word (dan word die aanstelling teruggehou totdat die saak ondersoek word en daar ‘n uitslag is).  Die uitslag kan byvoorbeeld wees dat een of meer van die 3 prosesse oorgedoen word.  Die lid kan deur die skoolverteenwoordiger, die hoof of die Uitvoerende Sentrum van raad bedien word of sy redes tot ‘n grief meriete inhou.  Die kritieke vraag wat altyd beantwoord moet word, is: Indien jy (jou grief) daarin slaag dat die proses oorgedoen moet word, wat is die kans dat die uitslag anders sal wees as dieselfde paneel dieselfde kriteria weer toepas om die uitslag te bepaal? 

Dit is te verstane dat as ‘n onderwyser by sy eie skool uitgeskakel word, hy/sy ongelukkig sal voel, maar  die gronde vir ‘n grief moet deeglik gemotiveer kan word en bewys kan word.

  • Voorbeelde van geldige griewe by elkeen van die prosesse word bespreek.

 

NB      Dit is belangrik om lede te ondersteun, maar wees versigtig dat jy onder
druk geplaas word om kant te kies of vertroulikheid te skaad.

            Indien ‘n lid nie die uitspraak van die Griewe Komitee aanvaar nie, kan ‘n dispuut
verklaar word wat dan deur die RAVO / Arbeidshof hanteer word.