TuisSkakelsSluit aan
Algemene Kurrikuluminligting
 

Wie is ons?

Die Kurrikulumdiens van die SAOU lewer ‘n ondersteuningsdiens op die kurrikulumterrein aan onderwysers; skoolbesture; lektore en besture van kolleges vir Verdere Onderwys en Opleiding.(VOO). Die diens is in die Uitvoerende Sentrum van die SAOU in Garsfontein, Pretoria gesetel en kan by die volgende nommers/adresse gekontak word:

Tel: 012 348 9641
Faks: 086 687 9996
zeldar@saou.co.za

Posbus 90120
0042 GARSFONTEIN

Serenestraat 278
GARSFONTEIN

Die Kurrikulumdiens lewer ook ‘n ondersteuningsdiens aan die onderwysdepartemente, veral die nasionale onderwysdepartement op ‘n proaktiewe wyse deur byvoorbeeld die departemente oor ontwikkelinge in die praktyk in te lig, of op ‘n reaktiewe wyse wanneer ‘n departement bystand sou versoek.

Voorbeelde van die diens wat ons lewer:

Verkryging en/of beskikbaarstelling van inligting oor die kurrikulum en verwante aangeleenthede soos assessering en eksaminering of die uitklaring van onduidelikhede en onsekerhede in dié verband

  • Die Kurrikulumdiens beskou dit as sy taak om SAOU lede oor alle kurrikulumaangeleenthede ingelig te hou en om onduidelikhede en onsekerhede uit te klaar. Die Kurrikulumnuus word vir die doel gebruik maar individuele bystand word ook gelewer.
  • Dit staan lede ook te alle tye vry om die Kurrikulumdiens te versoek om spesifieke inligting te bekom of om onduidelikhede uit te klaar.
  • Die Kurrikulumdiens sorg dat sy netwerke hom toegang gee tot die persone/strukture wat hierdie dienslewering moontlik maak.

Opleiding

  • Wanneer blote inligtingverskaffing nie voldoende is nie, word oriëntering- en opleidingsgeleenthede gereël.

Fasilitering van gesprekke tussen hoofde/onderwysers en departemente/statutêre liggame

  • Wanneer daar ‘n behoefte aan direkte kontak tussen skole/kolleges en departemente/statutêre liggame bestaan, kan die Kurrikulumdiens sodanige gesprekke fasiliteer. Gesprekke met departementele beamptes oor die implementering van die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) in spesiale skole, is ‘n goeie voorbeeld.

Voorleggings en standpuntinname namens lede (hoofde/onderwysers) by departementele forums en formele strukture soos bv. subkomitees van HEDCOM

  • Die Kurrikulumdiens verteenwoordig die SAOU op verskeie departementele forums en statutêre strukture en kan dus insette tot die ontwikkeling van beleid lewer en aangeleenthede waarmee skole/onderwysers/kolleges probleme ervaar, stel en motiveer.

Deelname van SAOU-lede aan aktiwiteite van die nasionale Onderwysdepartement

  • Die Kurrikulumdiens beskou dit as sy plig om toe te sien dat SAOU-lede betrokke is by inisiatiewe van die Departement in gevalle waar sodanige betrokkenheid die lede, leerders of die onderwys in die breë tot voordeel sal strek. Voorbeelde sluit die indiensopleiding van onderwysers en die ontwikkeling van GTAs (CTAs) en ander assesseringsinstrumente in.

Ontwikkeling van materiaal ter ondersteuning van die onderwyser in die klaslokaal of die skool-/kollegehoof en sy bestuurspan

  • Die Kurrikulumdiens beskou dit as sy taak om lede in die uitvoering van hulle pligte te ondersteun deur o.a. dokumente wat die werklas verlig, te ontwikkel en beskikbaar te stel. Die konsepleerprogramme wat in die afgelope twee jaar elektronies beskikbaar gestel is, kan as ‘n voorbeeld dien. In hierdie geval is groepe kundige en ervare onderwysers bymekaar gebring en is die ontwikkeling van die programme gefasiliteer.
  • Onderwysers en skole kan die Kurrikulumdiens ook versoek om die ontwikkeling van bepaalde ondersteuningsmateriaal te fasiliteer.

Toegepaste navorsing en die beskikbaarstelling van die resultate aan skole en departemente

  • Dit is die taak van die Kurrikulumdiens om kurrikulumverwante aangeleenthede na te vors om te verseker dat SAOU lede voortdurend en op alle toepaslike terreine bemagtig kan word.
  • Lede is ook welkom om die Diens van aangeleenthede wat navorsing regverdig of vereis, bewus te maak.