Ouers kan 'n verskil maak

Is jy as ouer gelukkig met die skool waar jou kind skoolgaan? Wens jy soms dat jy kon deel wees van kritiese aspekte rakende die skool se besluitnemingsprosesse? Moontlik sien jy leemtes en besef jy waar areas van verbetering ‘n groot verskil kan maak maar jy voel jou hande is afgekap? Het jy nie al gewonder wat gedoen kan word om die skool verder te verbeter nie?
Daar is moontlik ‘n vaardigheid waaroor jy beskik wat die skool kan help om beter te funksioneer: jy is dalk ‘n kenner op die gebied van inligtingstegnologie, of dalk is jy ‘n regskenner of ‘n rekenmeester. Hier is goeie nuus! Jy kan daadwerklik jou dienste aan die skool beskikbaar stel in belang van jou kind. Skole is tans in proses om kennisgewings aan ouers te stuur rakende die verkiesing van die nuwe beheerliggaam van jou kind se skool gedurende Maart 2018. Gryp die geleentheid aan en stel jouself beskikbaar. Om deel te wees van die besluitnemingsstruktuur van die skool is ‘n ideale manier om ‘n verskil in die skoolomgewing te maak, nie net tot beswil van jou eie kind nie, maar ook vir ander kinders, jou kind se vriende ingesluit.
Die verkiesing van nuwe Beheerliggame is naas die Algemene verkiesing, wat in 2019 sal plaasvind, die belangrikste gebeurtenis in die Suid- Afrikaanse skolestelsel en die land as ‘n geheel. Daar is meer as 24,000 skole landwyd wat in Maart nuwe beheerliggame sal verkies wanneer die termyn van die vorige verkose beheerliggame ten einde loop.
Hierdie verkiesing van nuwe lede kan of ten goede meewerk of dit kan lei tot ‘n nie-funksionele skool waar sake van oorhoofse bestuur nie die nodige aandag geniet nie en derhalwe tot nadeel van almal by die skool strek. Die veiligheid van jou kind op die skoolterrein, skoolgeld en kwaliteit onderrig word grootliks deur die beheerliggaam verseker. Ouers vorm ‘n baie belangrike been van die drie vennote wat moet saamwerk om gehalte onderwys te verseker en moet daarom betrokke raak.
Wat is die rol wat die beheerliggaam in ‘n skool moet speel? Die beheerliggaam se primêre taak is “governance”. Dit behels die beheer van al die eksterne faktore asook die bepaling van beleid deur die beheerliggaam. Die oorhoofse beheer van die skool wat fundamenteel is en die daarstelling van verskeie beleide wat die skool se organisasie ondersteun; naamlik die toelatingsbeleid, die gedragskode vir leerders, dissipline, die taalbeleid ens., is geweldig belangrik. ‘n Ander baie belangrike funksie van die beheerliggaam het te make met finansies. Finansies het te doen met skoolgeld, begrotings, fondsinsamelingsprojekte en die behoorlike administrasie van skoolgeld. Dit is ‘n uiters belangrike rol wat die beheerliggaam moet vertolk. Ouers se inspraak verseker dat die skool optimaal funksioneer en dat hulle kinders die beste waarde vir hul geld ontvang.
‘n Verdere vertakking van die beheerliggaam se funksies sluit die vestiging van komitees in, soos byvoorbeeld finansies, geboue en terrein, dissipline, koshuise, bemarking ens. Dit is belangrik dat die behoeftes van die skool en die beheerliggaam daardeur aangespreek word. ‘n lid van die Beheerliggaam moet te alle tye die voorsitter van so ‘n komitee wees. Hierdie komitees maak dan aanbevelings aan die beheerliggaam rakende sake wat ondersoek is. Die komitees word aangevul deur ouers en kenners wat waarde kan toevoeg.
Die beheerliggaam het verdere bevoegdhede wat deur die Skolewet aan die beheerliggaam toegeken word. Artikel 20 van die Suid-Afrikaanse Skolewet maak hiervoor voorsiening. Dit sluit in take soos die opstel van ‘n grondwet vir die beheerliggaam, die skool se missie en visiestelling, aanbevelings ten opsigte van aanstellings van onderwysers en adminsitratiewe- asook terreinpersoneel, die bepaling van skooldagure ens. Die beheerliggaam is verder ook gemagtig om die infrastruktuur te verhuur om sodoende fondse vir die skool te genereer.
Artikel 21 van die Skolewet bepaal die funksies wat die beheerliggaam in staat stel om verdere verantwoordelikheid vir die skool te aanvaar. Hierdie funksies word eenmalig aan ‘n skool toegeken en daar word nie elke jaar daarvoor aansoek gedoen nie. Indien ‘n beheerliggaam in gebreke bly om die funksies na behore uit te voer, kan dit deur die LUR teruggetrek word. Hierdie funksies behels byvoorbeeld die aankoop van handboeke en enige opvoedkundige benodigdhede, toerusting vir die leerders en
onderwysers, buitemuurse aktiwiteite en die vakpakette van die skool. Instandhouding en opknapping van die skooleiendom is ook ‘n taak wat die beheerliggaam kan aanvaar.
Die rol van beheerliggame is baie belangrik aangesien dit gereeld gebeur dat ‘n skool deur buite instansies in ‘n moeilike situasie geplaas word. ‘n Voorbeeld hiervan is die onlangse Hoërskool Overvaal debakel. Die beheerliggaam moes optree in belang van die skool en leerders. So gebeur dit soms dat die department die skool in ‘n hofgeding insleep; die omgekeerde kan ook gebeur. Die beheerliggaam se betrokkenheid is van die uiterste belang. Die verhouding tussen die beheerliggaam en die skoolhoof was die afgelope 20 jaar een van die kosbaarste strategiese verhoudings binne die onderwystelsel. Die goeie verhouding word egter tans bedreig deur die department se voorgestelde wysiging van die SA Skolewet waarin sekere bevoedhede van die beheerliggaam weggeneem sal word. Gelukkig was die spontane teen-reaksie uit alle geledere van die samelewing ‘n riem onder die hart.
Die hoof van die skool speel ook ‘n rol ten opsigte van die beheerliggaam se verantwoordelikhede. Hy/sy is verantwoordelik vir die professionele bestuur van die skool. Die skoolhoof is ook (ex-officio) uit hoofde van sy posisie en status, lid van die beheerliggaam. Die skoolhoof tree op as verteenwoordiger van die department. Daar kan na die skoolhoof verwys word as die hoof uitvoerende beampte (HUB). Die taak van ‘n HUB is om verslag te doen aan die beheerliggaam. Die skoolhoof is verantwoordelik vir die implementering van beleide van die beheerliggaam asook opdragte van die Departement. Verder moet die hoof na elke personeellid se welstand en uitsette van gehalte omsien.
Die bestuurspan van die skool word deur die hoof saamgestel. Die span bestaan uit adjunkhoofde, departementshoofde en soms ook vakhoofde. Dit kan verskil van skool tot skool. Strategieë en beleid word deur die bestuurspan geïmplimenteer. Die bestuurspan lewer ook hul insette aan die beheerliggaam om sake binne die skool te verbeter. Die beheerligaam tree as die skool se regspersoon op. Enige kontrakte van die skool kan slegs deur die beheerliggaam aangegaan word nadat goedkeuring deur die departement verleen is.
Die uiters belangrike vertrouensverhouding tussen die skoolhoof en die beheerliggaam moet ten alle koste gekoester word. Daar moet ‘n deeglike terreinafbakening tussen die beheerliggaam en die hoof bestaan. Konflik kan maklik tot skeuring lei en dit sal weer nadelig inwerk op die skool se dienslewering. Albei kante moet hulself van enige verskuilde agendas weerhou.
Dit is dus duidelik dat die Maart-verkiesing ‘n beheerliggaam daar moet stel wat hulle fidusiêre verantwoordelikheid (wat in die beste belang van die skool is) deeglik sal besef.
Dit is te verstane dat ouers dikwels onwillig is om hulself beskikbaar te stel vir verkiesing as lid van die beheerliggaam. Ouers, veral werkende ouers, twyfel of hul die nodige tyd sal hê om aan die werksaamhede van die beheerliggaam deel te neem en so verbeur ouers die geleentheid om aktiewe en passievolle insette te lewer of hul stem te laat hoor. Onbetrokke ouers verbeur egter die geleentheid om aktiewe en passievolle insette te lewer, of hulle stem te laat hoor.
Struikelblokke is nie onoorkomlik nie en is dikwels die boustene vir beter verhoudinge en samewerking. Ouerdeelname op hierdie vlak is onontbeerlik. Mnr. James Ndlebe (Director for the Education Management and Governance) raai ouers aan om hulle of vir die verkiesing beskikbaar te stel, of om die beste kandidate moontlik te nomineer en dan op die dag waarop die beheerligggaam verkies word, te stem. Hy sê: “Although it takes a community to raise a child, parents must play their part in supporting schools with the education of their children.”
Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)...
by SAOU 18 Apr, 2024
SAOU STANDPUNT OOR SKOOLUNIFORMS
by Anet Burns, Departementshoof, Laerskool Monumentpark, Pretoria 16 Jan, 2024
Jy het uiteindelik jou studies voltooi en met die aanbreek van die nuwe skooljaar sien jy uit na jou heel eerste onderwyspos. Hulpmiddels vir jou klas word gemaak en gekoop, en van die kalender tot verjaarsdagplakkaat pas alles by die oulike tema wat jy gekies het. Op sosiale media sluit jy fluks aan by die onderwysergroepe en vra raad by ander. Alles sodat jou eerste dag sonder enige haakplekke kan verloop! Alhoewel daar ‘n magdom praktiese wenke is wat jou nuwe kollegas met jou sal deel, is dit belangrik om te onthou dat elke kind, klas, skool, jaar en ouergemeenskap van mekaar verskil. Planne en tegnieke wat by kollega A se plattelandse skool in die Noord-Kaap ‘n treffer is, sal dalk nie by jou voorstedelike skool in Gauteng so suksesvol wees nie. Tyd en ervaring het egter geleer dat daar wel ses basiese dinge is wat alle onderwysers (meestal) positief en produktief sal hou - maak nie saak waar of hoe lank jy skoolhou nie.
by VivA • 19 Jul, 2023 19 Jul, 2023
Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel ; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail , soos in Sy het ’n oog vir detail ? Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
More posts
Share by: