Fitch gradeer SA nie dieper in die rommel in nie

Deur: Hanlie StadlerAuthor: Hanlie Stadler | Netwerk24Source: Netwerk24

 

Fitch gradeer SA nie dieper in die rommel in nie

Fitch Ratings het Suid-Afrika se kredietgradering Donderdagmiddag onveranderd gelaat op BB+.

Die gradering se vooruitsig is bly ook op stabiel, wat matig positief is omdat dit beteken die land se skuld nie verder afgegradeer gaan word tensy dinge drasties agteruitgaan nie.

Die tesourie sê in ’n verklaring Fitch merk tereg op dat die retoriek van “radikale ekonomiese transformasie”  nie ’n grondliggende verandering in beleid impliseer nie. “Die hooffokus van die regering is om die langdurige doelwit van inklusiewe groei op te los.”
Die tesourie sê die uitkoms demonstreer dat die land moet aanhou saamwerk “veral in moeilike tye en selfs harder moet werk om seker te maak die land herwin sy beleggingsgraadstatus.”

BB+ is een vlak onder beleggingsgraad op Fitch se skaal.

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) se beslissing word Vrydag verwag.

Sowel Fitch as S&P het Suid-Afrika in April tot rommelstatus afgegradeer, hoewel S&P net staatskuld in dollar en pond afgegradeer het, en Fitch ook staatskuld in rand. Moody’s Investors Service se beslissing word eersdaags verwag.

Die rand het kort ná die nuus tot selfs R12,99 per dollar versterk.

Die tesourie sê baie werk lê voor en die regering sal die Nasionale Ontwikkelingsplan as sy oorhoofse beleid inspan om inklusiewe groei te bewerkstellig in die poging om werkloosheid, armoede en ongelykheid uit te wis.

Jan Friederich, senior direkteur van Fitch, sê Suid-Afrika word aan bande gelê deur trae ekonomiese groei. Die staat se waarborge aan staatsondernemings word opnuut uitgelig as risiko’s.

Fitch verwys ook na die “agteruitgang van bestuur” in die regering.

Aan die positiewe kant is daar lof vir die staat se poging om sy skuld te beheer en ’n “geskiedenis van betreklik verstandige fiskale en monetêre beleid”.

Fitch sê die kabinetskommeling einde Maart, wat tot ’n skielike afgradering gelei het, gaan waarskynlik beheer by staatsondernemings en fiskale konsolidasie ondermyn en ontmoedig investering deur die private sektor.

Daar is lof vir Malusi Gigaba, nuwe minister van finansies, se verbintenis tot bestaande fiskale teikens.

Fitch sê daar is soveel spanning binne die ANC dat beleid nie radikaal sal kan verander nie, maar dit skep ook onsekerheid oor beleid.