Die blote gedagte dat jou kleuter “groot-skool” of laerskoolkind na die hoërskool toe moet gaan is al vir talle ouers traumaties genoeg. Voeg daarby die onsekerheid rakende keuse van skool en of jou kind gelukkig gaan wees in die skool wat julle kies, en jy het ʼn wenresep vir slapelose nagte. Advertensies en kennisgewings van skole se opedae pryk tans teen al wat ʼn lamppaal is, elkeen se slagspreuk ʼn belofte na die geheime bestanddeel wat die wenresep vir jou kind se toekoms is. Hoe maak jy die regte keuse? Watter kwaliteite behoort ouers na te soek? Hoe soek jy die nommerpas-skool?

Die grootste guns wat ouers hulself kan bewys, is om te onthou dat kinders (en hul behoeftes en belangstellings) verskil. Die Engelse slagspreuk van horses for courses kan maar teen jou yskas kom. Geskikte ligging of naaste skool en maats wat na dié spesifieke skool gaan is nie meer noodwendig die enigste kriteria vir die aha-oomblik nie. Die vakkeuses en –rigtings van skole en jou kind se belangstellings en oorweging van beroep weeg al hoe swaarder op die skaal van skoolkeuse. Maar, buiten die voor-die-hand-liggende invloede soos vakke, koshuise en vervoer, is daar ʼn paar ander oorwegings wat gerus oorweeg kan word en meer lig moet werp op skoolkeuses.

Stem die skool se waardes en julle as gesin se waardes, ooreen? Kan julle julself met die etos en manier van doen van die skool vereenselwig? Dié inligting gaan jy nie kan aflei van die lamppaal-plakkaat nie, ʼn skoolbesoek en kennismaking met die hoof of personeel of selfs ander ouers, is nodig. Doen jouself die moeite om hierdie huiswerk te doen. Ouers is telkemale verras oor hoeveel inligting mens kan bekom deur hierdie besoek af te lê. Sommige skole fokus sterk op akademie, ander presteer uitsonderlik in sport of kultuur. Sommige skole is meer tradisievas as ander en moet jou kind kan inpas by bestaande kultuur van die skool.

Bepaal wat jou kind se talente en belangstellings is en neem dit in ag. MAAR, vra jouself gerus die vraag “Wat is die kwaliteite wat ek graag in my kind sou wou sien wanneer hy/sy eendag die skoolbanke verlaat: 10 onderskeidings? Provinsiale kleure in ʼn sportsoort? Of dalk groter gewigswaarde aan kwaliteite wat my kind gaan nodig hê om suksesvol in die wêreld in hul beroep te kan staan?” Emosionele en sosiale vaardighede, waar kinders daagliks meer leer van respek en toleransie, deursettingsvermoë, die vermoë om jouself en die ruimte om jou te kan organiseer, tydsbestuur en hou by sperdatums, om aanpasbaar te wees, ʼn sin vir verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te hê, om menslik te wees, empatie met ander te hê, is nie meer noodwendig fokuspunte van alle skole nie.

Jou kind gaan eendag moet kan inpas in ʼn multikulturele werksomgewing – in watter mate en op watter manier word jou kind hiervoor voorberei? Wat is die skool se beleid rakende kultuursensitiwiteit, taal van onderrig en die gedragskode? Hoe belangrik is hierdie kriteria vir julle as gesin? Vra vir die gedragskode. Die deeglike bestudering van die gedragskode is nie om te bepaal hoe streng die skool ten opsigte van leerders se oortredings is nie, maar moet pertinent verwys na aspekte soos rassisme, verdraagsaamheid teenoor ander, respek, godsdiensbeoefening, boeliery, teistering deur middel van sosiale media, netheid, tydsbestuur, ens. Die sanksies vir oortredings ingevolge die gedragskode is net so belangrik, nl. is dit doodgewoon om te straf ter wille van straf, of om helende en remediërende optrede na te streef. Dit is op hierdie terrein wat die verborge kurrikulum van die skool na vore sal kom, want dit is die sorgvuldige bestuur van hierdie elemente wat gewis langtermyn waarde toevoeg om elke kind tot gebalanseerde volwassene te begelei.

Talle skole spog met die nuutste tegnologie in klaskamers en gebruik dit as lokaas. Die nare waarheid? Bad teaching + technology = expensive bad teaching. Tegnologie is nie ʼn waarborg vir kwaliteit onderrig nie. Tegnologie is ʼn ongelooflike hulpmiddel wat uitsonderlik goed tot vandag se jeug spreek en totaal

onderskat word as hulpmiddel. Maar geen tablet of interaktiewe witbord, rekenaarprogram of toepassing kan instaan vir die menslikheidsfaktor, die x-faktor wat ʼn goeie onderwyser op jou kind het nie. ʼn Onderwyser wat betrokke is in jou kind se onderrig, wat werklik omgee, met jou kind kan “konnekteer”, vir jou kind geborgenheid en ʼn wil om te wil leer in die klaskamer skep, is dié enkele faktor wat altyd sal maak dat onderwysers nooit totaal uit die klaskamer van die toekoms sal weggelaat kan word nie. Gaan soék na dié kwaliteite – ʼn hoof, onderwysers en sportafrigters wat vir hul leerders omgee kan geen geld in die wêreld koop nie. Ook geen tegnologie voor opmaak nie.

Die kurrikulum se jaarlikse boustene moet in plek wees, wat eenvoudig beteken elke onderwyser moet elke jaar doen wat hulle moet doen sodat jou kind jaar op jaar op verworwe vaardighede en kennis kan bou. Klasgroottes en ʼn gestruktureerde, veilige skoolomgewing is dus belangrike inligting vir jou, veral in die laerskoolomgewing. Vra die vraag in watter mate suksesvolle leer werklik kan plaasvind in klasse met 40 en meer leerders.
Wat doen die skool om leerders geborge te laat voel? Dit is belangrik om te weet of daar ondersteuningsdienste soos terapeute en sielkundiges is wat deel vorm van die personeel en of ʼn inklusiewe benadering tot onderwys gevolg word. Hoe gereeld en op watter maniere kommunikeer die skool met ouers? Besoek die skool se webwerf of ondersoek hul teenwoordigheid op sosiale media en vergewis jouself van wat hul kommunikeer. In watter mate laat die skool betrokkenheid van die ouergemeenskap toe, of is die skool ʼn eksklusiewe, ontoeganklike eiland? Maak dus seker jy vra die regte vrae.

Indien jy werklik ernstig is rakende die keuse van skool vir jou kind, gaan maak gerus ʼn draai by die volgende sportdag of wedstryde wat by die skool plaasvind. Sportmanskap vertel baie van die ingesteldheid van leerders en afrigters. Gesels met die hoof – sy filosofie oor onderwys, dissipline en sy siening rakende positiewe en negatiewe punte van die skool sal vir jou ʼn duidelike aanwysing gee van die koördinate van die skool se toekoms. Waar moontlik, gesels met ander ouers en met leerders. Tans ietwat onderspeel in skoolomgewings maar totaal onderskat is leerders se manier hoe daar met besoekers gekommunikeer word. Is die leerders ambassadeurs van hul skool, basiese goeie maniere en leerders wat volwassenes groet is tans ʼn rariteit. Leerders wat doelloos ronddwaal gedurende klastyd en oormatige lawaai sal jou baie meer van die skool se dissipline vertel as die blink kleurvolle prospektus wat in jou hand gestop word met die opedag. Met die eerste tree wat jy as ouer deur die skoolhek gee, gaan jy reeds weet of julle as gesin en die skool dieselfde siening het rakende netheid, instandhouding en veiligheid. Talle ouers word ʼn rat voor die oë gedraai met flambojante sportvelde maar rommel wat op die terrein rond waai behoort genoeg te sê van die skool se prioriteite en wat die waardes is wat hul by leerders vestig.

Jou kind se skoolloopbaan duur van Graad R – 12, dertien jaar. Vir sommige ouers dertien jaar van wroeging en een lang stryd. Vir sommige kinders een lang nagmerrie. Vir ander ‘n wonderlike tyd van leer en nuwe ervaringe! Maar die lewe gaan mos oor keuses. Maak die keuse om na die regte skool vir jou kind te soek.

Die laaste stuiwer in die armbeurs: Indien jy wil weet of jou kind gelukkig gaan wees in die nuwe skool, hou die ander kinders se gesigte dop. ʼn Suksesvolle skool waar kinders gelukkig is, word aan die breedte van die kinders se glimlagte gemeet. Dis die skool wat nommerpas is vir JOU kind.
Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)...
by SAOU 18 Apr, 2024
SAOU STANDPUNT OOR SKOOLUNIFORMS
by Anet Burns, Departementshoof, Laerskool Monumentpark, Pretoria 16 Jan, 2024
Jy het uiteindelik jou studies voltooi en met die aanbreek van die nuwe skooljaar sien jy uit na jou heel eerste onderwyspos. Hulpmiddels vir jou klas word gemaak en gekoop, en van die kalender tot verjaarsdagplakkaat pas alles by die oulike tema wat jy gekies het. Op sosiale media sluit jy fluks aan by die onderwysergroepe en vra raad by ander. Alles sodat jou eerste dag sonder enige haakplekke kan verloop! Alhoewel daar ‘n magdom praktiese wenke is wat jou nuwe kollegas met jou sal deel, is dit belangrik om te onthou dat elke kind, klas, skool, jaar en ouergemeenskap van mekaar verskil. Planne en tegnieke wat by kollega A se plattelandse skool in die Noord-Kaap ‘n treffer is, sal dalk nie by jou voorstedelike skool in Gauteng so suksesvol wees nie. Tyd en ervaring het egter geleer dat daar wel ses basiese dinge is wat alle onderwysers (meestal) positief en produktief sal hou - maak nie saak waar of hoe lank jy skoolhou nie.
by VivA • 19 Jul, 2023 19 Jul, 2023
Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel ; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail , soos in Sy het ’n oog vir detail ? Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
More posts
Share by: