Meer as 200 onnies in W-Kaap skuldig aan lyfstraf

Deur Abby-Gene Bissolati 06 Julie 2016 22:24

Meer as 200 onnies in W-Kaap skuldig aan lyfstraf

Kaapstad. – Meer as 200 onderwysers in die Wes-Kaap is skuldig bevind dat hulle lyfstraf toegedien het.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement en Statistieke Suid-Afrika (SSA) het dié statistieke vir lyfstraf in skole in die Wes-Kaap bekend gemaak.

Luidens die verslag is daar tussen 2015 en 2016 501 klagte van lyfstraf, waarvan 205 ongegrond was, by die departement aangemeld, en 222 onderwysers is skuldig bevind in tugverhore wat uit die klagte gespruit het.

Paddy Attwell, departementswoordvoerder, sê ’n verdere 74 klagte word sedert Maart vanjaar ondersoek.

’n Veiligheidsoudit wat in September en November 2015 deur Equal Education gedoen is, wys ook dat kinders onveilig voel in skole.

Intussen sê Jonovan Rustin, Wes-Kaapse sekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), dié vakbond doen sy deel om die skrikwekkende lyfstrafsyfer te laat daal.

“Ons is bekommerd oor die syfer en het besluit om op elke vakbondbyeenkoms die kwessie te bespreek. Onderwysers moet meer positiewe maniere vind om leerlinge te tug,” sê Rustin.

Sadou sal nou ook werksessies aanbied waar onderwysers na positiewe metodes kan kyk om dissipline in die klaskamer te handhaaf.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die SAOU waarsku sy lede voortdurend om nie lyfstraf toe te pas nie.

“Ek dink dis ’n simptoom van ’n dieperliggende saak. Onderwysers het hul vertroue in die onderwys verloor en voel onbeskermd. Dissiplinêre probleme is grotendeels die rede waarom onderwysers by skole bedank.”

Klopper sê wanneer ’n onderwyser ’n meester van sy vakgebied is, respekteer leerlinge hulle outomaties meer.

Hy stel ook voor dat onderwysers tugmaatreëls moet handhaaf waar nodig. Hulle moet ook nie bevooroordeeld teenoor leerlinge wees nie.

Klopper het ’n beroep op alle SAOU-lede gedoen om nie hul hande vir enige kind te lig nie.