moet meer mag kry, nie minder

Deur: Jan GerberAuthor: Jan Gerber | Netwerk24Source: Netwerk24

 

1

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Foto: Leánne Stander
Daar heers kommer dat die werk-vir-kontant-verslag gebruik gaan word om die magte van skoolbeheerliggame te verwater.

Dít terwyl ’n wetsontwerp wat in sy huidige vorm ’n soortgelyke effek sal hê ook op die horison is.

Verskeie organisasies het Woensdag voorleggings oor die werk-vir-kontant-verslag aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys gedoen.

Die werk-vir-kontant-verslag volg op ’n ondersoek deur ’n ministeriële taakspan nadat City Press verlede jaar berig het dat onderwysers poste ontvang in ruil vir kontant, met lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) wat ’n sentrale rol in dié transaksies speel.

Een van die punte van kritiek wat gereeld teen die verslag geopper is, is die aanbeveling dat skoolbeheerliggame nie meer moet aanbeveel watter onderwysers die departement by skole aanstel nie.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ondersteun nie dié aanbeveling nie.

“ ’n Gemeenskap moet die mag hê om aanbevelings te doen betreffende die onderwysers wat aan die verskeie gemeenskappe se vereistes voldoen,” het Chris Klopper, die SAOU se uitvoerende hoof, gesê.

“Die provinsiale onderwysdepartement het geen verantwoordelikheid teenoor ’n spesifieke gemeenskap nie en is nie au fait met so ’n gemeenskap se behoeftes en die betrokke skool se kurrikulum en buitemuurse behoeftes en vereistes nie.”

Klopper sê die oorkoepelende tema van die aanbevelings is om voorbrand te maak vir die sentralisasie van die onderwysstelsel.

2

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).Foto: Nelius Rademan

“Ons kan nie tot ’n ander gevolgtrekking kom nie as dat dié inisiatief ’n skoolstelsel sal instel wat gedienstig aan die regerende party van die dag sal wees en aan die 1976-skoolmodel herinner.”

Een van die redes wat vir die beperking van skoolbeheerliggame se magte voorgehou word, is dat baie van die liggame nie die kundigheid het om korrupsie hok te slaan nie.

“Indien skoolbeheerliggame nie die nodige vaardighede en vermoëns het nie, moet die onderwysowerhede die skuld kry.”

Hy sê die SAOU en ander unies sal help om beheerliggame toe te rus.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê daar is reeds in Maart verlede jaar aan elk van die nege provinsiale onderwysdepartemente geskryf om Fedsas se hulp aan te bied om beheerliggame op te lei, maar slegs die departementshoofde van die Wes-Kaap en Gauteng het gereageer, en dit was slegs erkennings van ontvangs.

Fedsas en die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB) staan ook die verwatering van beheerliggame se magte teen.
“Dit is nie die stelsel wat korrup is nie, dit is mense. Dit is mense wat die stelsel korrupteer,” het Colditz gesê.

3
Tim Gordon, uitvoerende hoof van die Beheerliggaamstigting (GBF). Foto: Verskaf

“Jy vernietig nie demokratiese stelsels en demokrasie omdat iemand in daardie stelsel verkeerd opgetree het nie.”

Tim Gordon, uitvoerende hoof van die Beheerliggaamstigting (GBF), het gesê die stigting voel sterk dit sal nadelig wees vir die onderwys en demokrasie om ouers uit die proses te haal.

“Dit sal slegter wees vir die onderwys en demokrasie as ongebreidelde beheermagte aan die onderwysdepartemente gegee word,” sê hy.

“Dit is die beheerliggame wat die minste [in die verslag] geïmpliseer word, tog is dit die beheerliggame wat die meeste kan verloor.”

Gavin Davis, DA-LP, het gesê hy is bekommerd oor beheerliggame. “Beheerliggame moet versterk word, nie verswak word nie, want hulle speel ’n baie belangrike rol om ander instellings verantwoordbaar te hou.”

Hy het gesê die wysigingswetsontwerp op onderwyswette sal in die eerste kwartaal van volgende jaar voor die komitee dien.

Netwerk24 het in Maart vanjaar berig dié konsepwetsontwerp sal beheerliggame se magte op verskeie maniere beperk.

Die wetsontwerp wat toe beskikbaar was, het die volgende bepalings ingesluit:

* Dat ’n onderwysdepartement die mag sal hê om die posvlakke te beperk waaroor die skoolbeheerliggaam aanbevelings oor aanstellings aan die departement kan maak;

* Dat die hoof van ’n provinsiale onderwysdepartement groter gesag kry om ’n leerling tot ’n skool toe te laat;

* Dat die beheerliggaam van ’n openbare skool verplig word om sy toelatings- en taalbeleid aan die departementshoof vir goedkeuring voor te lê. Die departementshoof moet dan die behoeftes van die breër gemeenskap waarin die skool is in ag neem; en

* Dat die departementshoof in sekere omstandighede ’n openbare skool opdrag kan gee om meer as een onderrigtaal te gebruik.

LEES OOK
‘Beheerliggame moenie onderwysers aanstel’ Deur: Jan GerberAuthor: Jan Gerber | Netwerk24Source: Netwerk24

Chris Klopper
SAOU