‘Ogod nie polisieman oor geloof in skole’

Deur Hannes Kruger 02 Augustus 2017 14:06

 

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), is nie deur die hof as polisieman oor geloof by openbare skole aangestel nie.

Só sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), oor Pietersen wat nog 14 openbare skole aangespreek het oor hul geloofseksklusiewe beleid.

“As ’n leerling of ouer ontevrede is oor ’n skool se beleid oor geloof, is die beheerliggaam van die skool daar om die klagte te hanteer,” sê Klopper.

Pietersen sê Klopper is reg. “Die hof het niemand as polisieman aangestel nie. Dis bloot Ogod, ’n geregistreerde nieregeringsorganisasie, se mandaat om maatskaplike geregtigheid te bevorder. Ons mandaat fokus spesifiek op godsdiens in openbare skole.”

Klopper sê die SAOU win regsadvies in oor hoe om sy lede by te staan wat deur Ogod se optrede geraak word.

Dis belangrik om onderwysers se reg in die werkplek in ag te neem.

“As daar byvoorbeeld ’n Moslem-onderwyser is wat haar hoof bedek as deel van haar geloof, dan druk sy haar geloof uit en dis haar volle reg. Mag Christelike onderwysers dan dieselfde doen en ook hul geloof op hul manier uitleef?”

Hy sê kragtens art. 15.1 en 15.2 van die Grondwet mag individue hul geloof ten volle uitdruk.

 

Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod).Foto: Felix Dlangamandla

As ouers, leerlinge en onderwysers as deel van ’n inklusiewe proses vergader het en daar besluit is dat “almal tevrede is dat Christelike praktyke by die skool beoefen word, wat is die probleem daarmee?

“Die beoefening van geloof by openbare skole moet natuurlik nie uitsluit nie en mag nie diskrimineer nie,” sê Klopper.

Pietersen sê Ogod is gestig om ouers en leerlinge te verdedig en by te staan wat uitgesluit word deur skole wat een spesifieke geloof voorstaan.

“Al wat ek vra, is dat die wetgewing toegepas word. Dis al 21 jaar wet dat geen skool een geloof bo ’n ander mag verhef nie. Die skole moet net die wet toepas en hulle weet goed wat die wetgewing daaroor is.”

Die hooggeregshof in Johannesburg het in Junie bevind godsdiens het ’n plek in openbare skole mits een godsdiens nie bo ’n ander bevorder word nie. Daar mag dus nie ’n geloofseksklusiewe openbare skool wees nie.

Sowat ’n maand nadat die uitspraak gelewer is, het Pietersen briewe aan 14 openbare skole gestuur oor wie Ogod klagtes ontvang het dat hulle geloofseksklusief is.

Ogod: Onderwysunie kap terug

Deur Elsabé Brits 05 Augustus 2017 15:05

Die Skolewet is nie ongrondwetlik bevind nie en dié wet maak voorsiening op geloofsbeoefening en vereis nie die afwesigheid van godsdiens nie, maar om te voldoen aan die toets van billikheid, vryheid en vrywillige deelname.

Dit is een van die standpunte van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU). Dit kom nadat Hans Pietersen van die Organisasie vir Godsdiensteonderrig en Demokrasie (Ogod) Vrydag gesê het “die jagseisoen is nou oop” nadat die ses skole wat Ogod vroeër vanjaar voor die hof gedaag het besluit het om nié aansoek te doen om teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie.

Pietersen sê die skole het nie aansoek gedoen om te appelleer nie, omdat hulle nie ’n nuwe verskoning gehad het om ’n appèl te regverdig nie, “of hulle wou nie die risiko loop vir ’n strenger uitspraak nie”. Hy sê hulle gaan die klagte teen die skole wat die uitspraak oortree vaartbelyn maak.

Chris Klopper

Chris Klopper van SAOU sê in ’n verklaring as die ouers tevrede is en die skool se beleid vir godsdiensbeoefening voldoen aan die beginsels van billikheid, vryheid en vrywillige deelname, kan daar mos nie sprake van “oortreders” wees nie. Indien ’n betrokke skool diskriminerend optree en ’n beleid van gedwonge deelname volg, sal dit uiters problematies wees.

Volgens Klopper bly die Nasionale Beleid vir Godsdiens in die Onderwys in plek. Art. 7 van die Skolewet is ook nie ongrondwetlik bevind nie. “Hierdie statutêre voorskrifte maak juis voorsiening vir geloofsbeoefening en vereis nie ’n afwesigheid van godsdiens nie, maar vereis voldoening aan die grondwetlike toets van billikheid, vryheid en vrywillige deelname.”

“Dit beteken dan ook nie dat elke geloof 100% gelyk in numeriese waarde benader moet word nie, maar dat die beleid nie mag diskrimineer nie. Dit impliseer dus dat skole nie identiese beleide kan en mag hê nie want elke skoolgemeenskap is uniek. Ogod as ateïstiese organisasie wil eerder ’n bedeling van afwesigheid van geloof sien.

“Vir die SAOU wat opvoerders en hul regte verteenwoordig, is Ogod se benadering en eis dat opvoeders, en veral Christelike opvoeders, nie regte het nie, en dat hulle nie mag stel wat hul geloof is nie, ’n miskenning van opvoeders se reg tot geloofsvryheid.”

* Ogod wou hê die hooggeregshof in Johannesburg moes die Laerskool Randhart in Alberton, die Laerskool Baanbreker in Boksburg, die Laerskool Garsfontein in Pretoria, die Hoërskool Linden in Johannesburg, die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn se godsdiensbeleid ongrondwetlik verklaar.

Dié skole het hulself met die Christelike geloof verbind.

* Die minister van basiese onderwys, die minister van justisie en korrektiewe dienste, en die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame was saam met dié ses skole respondente in die saak.