Resessie: Storm op pad, sê ekonome

Ekonome is dit eens: Stormwolke het saamgepak oor die Suid-Afrikaanse ekonomie – en verbruikers gaan waarskynlik die spit afbyt.

Die verwagting van 1%- ekonomiese groei in die hele 2017 is nou net ’n hersenskim nadat die land in die eerste kwartaal met -0,7% gegroei en die land in ’n tegniese resessie gedompel het. ’n Tegniese resessie is twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei.

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, sê die swak ekonomie kan werkloosheid selfs verder laat styg. Dit is reeds op die hoogste vlak in meer as 13 jaar op 27,7%, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) verlede week bekend gemaak. Meer as 9,3 miljoen Suid-Afrikaners is nou werkloos volgens die uitgebreide definisie.

Lings sê sekere aandele se prys sal waarskynlik daal omdat die swak ekonomie maatskappye se wins raak.

Hoe lank gaan dit duur

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, reken dat die ekonomie eers in die tweede helfte van die jaar sal begin herstel. Die tweede kwartaal sal nog die impak van die afgradering van staatskuld na rommelstatus deur Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings weerspieël.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gaan sukkel om sy belastingteikens te haal omdat mense hul werk kan verloor of hul inkomste nie veel gaan styg nie, en dít beteken die staat gaan sukkel om sy fiskale teikens te haal.

Dít kan tot ’n verdere afgradering van staatskuld lei.

Lings skryf die swak ekonomie toe aan “massiewe en volgehoue agteruitgang in sowel sake- as verbruikersvertroue”.

Dit is vererger deur die afgradering van staatskuld in April deur Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings en politieke ontwrigting, en kom in weerwil van sterker groei in die wêreldekonomie.

“Dis veral kommerwekkend dat die groeikoers nog nie sedert 2009 (die resessie net ná die wêreld- finansiële krisis) momentum gekry het nie.

“Sonder beter ekonomiese groei sal die fiskale owerhede al hoe meer sukkel om hul projeksies vir belastinginkomste te haal, wat al hoe meer maatskaplike, politieke en ekonomiese druk sal begin skep.”

Verskeie ekonome sê die nuus dat die land in ’n tegniese resessie is, is eintlik maar net ’n sielkundige knak.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê sedert 2011 groei Suid-Afrika baie traer as sy eweknieë en boonop word mense nou al jare lank eintlik armer omdat die ekonomie traer groei as die bevolking.

Ackerman verwag soos Lings dat die Reserwebank die trae groei saam met laer inflasiekoers sal beskou as ’n kans om vroeër eerder as later die repokoers te verlaag.

Die rand kan egter die angel in dié besluit wees. “Die huidige omgewing impliseer dat die onlangse sterk rand nie volhoubaar is nie,” sê Ackerman.

Hy verwag dat die rand op mediumtermyn heelwat gaan verswak “en die werklike, onderliggende ekonomiese fundamentele faktore sal weerspieël”.

As die primêre sektor – mynbou en landbou – nie so sterk gegroei het nie, sou die ekonomie met ’n enorme 2% gekrimp het.

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, sê hulle is onkant gevang deur die inkrimping in finansiële, eiendoms- en sakedienste (-1,2%), “maar dit weerspieël presies hoe swak plaaslike vraag en beleggings is”.

Die inkrimping van 0,6% in die staatsdiens toon dat die regering verbind bly tot fiskale konsolidasie, maar dit “voorspel niks goeds” vir die ekonomie vir die res van die jaar nie. Die staat verteenwoordig 17% van die totale bruto binnelandse produk (BBP), die grootste sektor ná finansies (21% van die BBP).

“Ons kommer is dat die syfers terugwaarts kyk en nie die skok in vertroue weerspieël wat op die kabinetskommeling en kredietafgraderings verwag word nie.”

Muscat sê die syfers sal Moody’s Investors Service, die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nog nie sy besluit oor staatskuld aangekondig het nie, beslis laat regop sit.

Die risiko bestaan dat Moody’s die land se skuld met twee vlakke kan afgradeer, wat dit ook op rommelstatus te staan sal bring.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê baie Suid-Afrikaners sukkel reeds om hul rekeninge te betaal en trae ekonomiese groei en hoër werkloosheid kan dié situasie vererger. “Dit kan hulle na geldskieters dwing, wat buitengewoon hoë rentekoerse vra.

Tensy iemand lewe in ons baie stagnante ekonomie blaas, gaan verbruikers ’n stamperige rit beleef.

“Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste skuldvlakke – meer as die helfte van die ekonomies aktiewe verbruikers is drie maande of langer agterstallig met van hul rekeninge.

“Ons het bietjie vuisvoos geraak met die twee afgraderings tot rommelstatus van S&P en Fitch, terwyl die regering agteroor buig om ons te probeer verseker dat dit onbelangrik is.

“Om amptelik in ’n resessie te wees, ís belangrik en tensy iemand lewe in ons baie stagnante ekonomie blaas, gaan verbruikers ’n stamperige rit beleef.”

Roets sê arm mense sal die ergste geraak word deur die swak ekonomie, maar hy is ook bekommerd dat mense in die laer middelklas, wat dalk pas uit armoede ontsnap het, weer in skuld vasgevang sal word.

“As Suid-Afrikaners moet ons aanvaar dat die tye moeilik is en waarskynlik nog moeiliker gaan word. Om nog skuld aan te gaan, is nie die antwoord nie, want die een of ander tyd sal dit jou inhaal. Dis beter om nou jou gordel vas te maak en jou leefstyl aan te pas by jou inkomste, hoe onaangenaam dit ook al op kort termyn is.”