Vrouemaand / Womens’Month

Beeld 13 Aug 2016

’n ‘Nooientjie’ wat ver verby die kappie kyk

Elma Smit gesels met Marna Jordaan

Deur Elma Smit 13 Augustus 2016 00:00
image1

Die Here het vir haar 1 000 dogters gegee, al is sy enkellopend en kinderloos, sê Marna Jordaan, skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria.

Dan lag sy ’n aansteeklike lag, diep uit haar maag.

“Maar, gelukkig hoef ek nie vir almal klere te koop nie!”
Sy lag maklik gul en hartlik, maar die hartseer, hoop, en kwaad lê net so vlak. Vanjaar het sy haar ma verloor, en daar was die nooientjie-bohaai oor die Affies-skoolwapen.

Op die horison wink darem die kans dat die topskool in Gauteng vir akademie die derde jaar agtereenvolgens Affie-blou sal dra.
Vrouemaand herinner mense elke jaar aan die 20 000 vroue wat in 1956 in protes teen paswette na die Uniegebou in Pretoria gestap het.

Juffrou Jordaan, soos Jordaan by Affies bekend staan, vertel ¬elke jaar by dié skool se Vrouedagvieringe ook vir haar dogters van ’n vroeër, minder bekende vroueprotes. Van die éérste groep Suid-Afrikaanse vroue
wat al in 1915 na die Uniegebou opgeruk het.

“Mense sê soms ons leuse ‘Ek sien haar wen’ beteken ons is ’n snobskool wat net altyd wil wén, maar hulle verstaan nie die konteks nie,” vertel Jordaan in haar haastige en reguit trant op ’n weeksoggend in haar kantoor.

NEE, JORRIE, HET HULLE ALTYD GESÊ, JY’S ’N STOUTE ENE, JY’T NIE DIE PROFIEL VIR AFFIES NIE!

 

Deur die venster eggo meisiekindstemme in die Augustuswind.

Op 5 Augustus 1915, ’n jaar ná die 1914-rebellie, het Afrikanervroue betoog teen die aanhouding van hul mans, broers en seuns – Boeregeneraals en ander leiers. By die Uniegebou gekom, het hulle ’n versoekskrif aan die goewerneur-generaal se afvaar¬diging bedien.

Die destydse De Burger het die volgende dag berig oor die “diepe ernst, kalmte, waardigheid en ¬beslistheid” van die meer as 4 000 vroue wat in stilte deur Pretoria gestap het.
Jan F.E. Celliers het gedig oor wat hy op daardie wintersdag in 1915 in Pretoria aanskou het:

Ek sien haar swyend gaan op steile pad, half duisel nog van nagte deurgewaak, en wankel-tredend, elke tree ’n pyn, na soveel gaans aan liefdewerk gewy.

Ek sien haar wag, geduldig, sonder woord, soos sy al honderd jaar gewag het en gely,

Ek sien haar wen, deur lye net soos Hy;

Ek sien haar wen, vir man en seun en broeder,

Want haar naam is Vrou, en Moeder!

Dié laaste strofe uit “By die vrouebetoging” is waar die leuse vandaan kom.

Reg bo “Ek sien haar wen” pryk ’n meisie in ’n Voortrekkerkappie op die skoolwapen.

“Daar was in die 1990’s by die skool, met die politiek van die tyd, ’n beweging ten gunste van ’n neutrale handelsmerk. So, pleks van die nooientjie is die ¬afkorting AHMP eerder op baie plekke gebruik. Dis nog steeds so by die hek as jy hier inry.” Sy beduie oor haar skouer na die skool se ingang.

image2

Vanjaar het sy en die beheerliggaam toe aan ’n stylgids begin slyp en besluit om die skool se handelsmerk te standaardiseer. Skole is mos deesdae soos maatskappye in die kleine, merk -Jordaan op.

“Ons moes besluit: óf die AHMP-handelsmerk óf die nooientjie. Ironies genoeg het ons die nooientjie gekies. Die probleem was net dat sy nie oral op ons uniforms, en so meer, dieselfde lyk nie.”

Jordaan vertel plegtig met haar oë groot, hoe sy en die beheerliggaam net die nooientjie “opgeknap” het, sodat sy altyd in dieselfde rigting kyk, of sy nou geborduur, gedruk of geskets word. Skielik het die nooientjie opgekyk en die skoon lyne van haar oop gesig was die fokus van die embleem.

Vir oudstudente was dit ’n ¬onnodige getorring aan hul alma mater se erfgoed. Die negatiewe reaksie het so ’n affêre veroorsaak dat ’n taakspan, onder leiding van Solidariteit se Dirk Hermann – ’n Affies-ouer – moes ingryp.
Dan voeg Jordaan opgewonde by, “en daar’s ook ’n swart dogter wat deur die kinders gekies is as hul verteenwoordiging op daardie taakspan, hoor!”

Jordaan het in 1975 in Rustenburg gematrikuleer en eers in 2008 by Affies aangesluit, ná 13 jaar as hoof van die Rand Hoër Meisieskool, in Johannesburg.

“Ek’s ’n geskiedenisonderwyser en ’n gewone Afrikaanse, plattelandse meisie, waarom sal ek wegdoen met die nooientjie?” Sy vou haar baadjie ontsteld voor haar bors plat en vou haar arms stywer toe.

Meer oor Marna

Gunstelinge

Skrywers/boeke:Twee vir ’n stuiwer deur W.A. Hickey. Ek lees nie moordverhale nie, ek hou van Hester Heese, Anna M. Louw en deesdae hou ek van niefiksie. Maxwell, Covey. En Dana Snyman, ek lag so lekker vir sy stories.

Flieks:Enigiets met Meryl Streep of Richard Gere! Ek hou van Cinema Nouveau-flieks ook.

TV: Die Blou Bulle, Titans en tennis. Ook Madam Secretary, The Fixer, Grey’s Anatomy en lekker komedies soos Two and a Half Men en That ’70s Show.

Tydverdryf:Ek lees my koerant in stilte as ek aan die einde van ’n dag by die huis kom, dan moet niemand my pla nie.

Musiek:Ek luister sommer Queen kliphard in my kar, ek hou van rock. Dan sing ek ­lekker hard saam.

Vakansie: George, Mosselbaai, Knysna, daar rond. En dan is ek eintlik aanneemouma van ’n vriendin se twee kinders. Hulle bly in Brisbane, Australië. As ek kans het, gaan kuier ek graag daar.

Kos: Pap en braaivleis. 

“Ons moes dit beter gekommunikeer het en dis jammer dat die storie so handuit geruk het, maar ek dink (die reaksie) was eintlik ’n bietjie kwaadwillig.

“Sy’s nie ’n Voortrekkerdogtertjie nie en sy is nie ’n politieke figuur nie. Die nooientjie is ­afgelei van die standbeeldjie deur Anton van Wouw, wat hier in die gang staan. Die noientjie van die onderveld. Dis óns kultuurerfenis.”

Die taakspan se proses is byna klaar en belanghebbendes het op ’n nuwe standaardnooientjie besluit, wat effens aangepas is, maar “nie onherkenbaar sal wees nie”. Sy sal binnekort bekend gestel word.

Of die nuwe nooientjie nou soos die Van Wouw-standbeeld afkyk of, soos die weergawe wat Maartmaand as ’n “Barbie” uitgekryt is, opkyk – ’n kappie sal sy dra.

Al is dié hooftooisel al ’n ­Boereboerka genoem. “Dit gaan nie oor die kappie nie, die gedagte is nie dat sy ’n Boere-ikoon is nie. Dis ’n Afrikaanse meisie en sy dateer uit dáái tyd.”

Dan kom die gemoedelikheid terug in haar stem, sy sug gelate en glimlag.

“Ek vat die hele storie nie so persoonlik nie. Die Afrikaner voel bedreig, ons is bang. Vir die oomblik was dit net makliker vir almal om die skuld op die skoolhoof te pak. Min mense hou van verandering – totdat jy vir hulle wys dit beteken nie vernietiging nie.”

Jorrie, soos haar universiteitspêlle haar geken het, gee maklik te kenne sy was nie altyd uitgeknip vir die rol van Affies se skoolhoof nie.

image3

“Ek en my koshuisvriendinne het op universiteit altyd hier oorkant by Loftus kom rugby kyk. As ons dan hier verbygeloop het, het ek altyd vertel
hoe ek eendag hiér skoolhoof gaan wees.

“Dan het hulle lekker gelag, want ek was ’n karnallie! Nee, Jorrie, het hulle altyd gesê, jy’s ’n stoute ene, jy’t nie die profiel vir Affies nie!”

Oudstudente het al klip gegooi in haar rigting omdat sy nie self ’n Affie is nie.

“Ek probeer juis vir almal leer dit het te doen met jou wáárdes, dís wat van jou ’n Affie maak. Jy mag nooit in jou lewe dink jy’s beter as ander nie.

“Ek het gehoor hoe die dogters by verlede naweek se Applous-koorkompetisie op aandag gestaan het vir die wenskool se skoollied, al was dit nie hul eie skoollied nie, terwyl die ander skole se kinders net uitgestap het. Dan swel my bors sommer. Ek kry ’n knop in my keel as ek net daaraan dink, man.”

Haar oë glinster.

Op 36 was sy al skoolhoof van die Randse Hoër Meisieskool. Op 21 het sy al voor klasse gestaan en skoolgee, omdat sy vroeg skool toe is, verduidelik sy nederig. Dalk ook omdat die onderwys haar so ooglopend besiel.

“Ek het as kind in die middae alewig weggeloop om in die skool in Haenertsburg, waar my pa koshuisvader was, se klaskamers te gaan speel.”

’n Gebore juffroutjie.

“My ma het by my 50ste verjaardagpartytjie vertel hoe ek as kleuter met my potlode onder my kussing geslaap het, want ek’t blykbaar toe al vir haar vertel hoe ek ook, soos sy, ’n juffrou gaan word.”

Die tweede van Willem en ­Corrie Jordaan se vier kinders, een van twee dogters, het in Standerton haar verstand gekry en in Rustenburg gematrikuleer.

Haar ouers was haar grootste steunpilare en rolmodelle, totdat hulle albei oor die afgelope twee jaar oorlede is. Haar ma net drie maande gelede.

“Ek’t so baie by my ma geleer, sy was een van die eerste vroulike departementshoofde en ook een van die eerste vroulike geskiedeniseksaminators, landwyd.” Sy trek haar skouers trots terug om die trane wat opgewel het, te ontwyk.

“Miskien het ek oor die jare nagelaat om genoeg na Marna te kyk. Ek het die afgelope twee jaar so ’n bietjie van ’n journey met myself gehad.

“ ’n Vriendin het my eenkeer genooi na ’n braai toe. Ek kon nie gaan nie, want ek was by die skool se prefektekamp. Toe sê sy vir my, luister, as jy eendag op 82 alleen op die ouetehuis se stoep sit, moenie met ons baklei nie. Dít het my nogal geruk.”

 

image4

Marna Jordaan het aan die einde van 2007 die Rand Meisieskool in Johannesburg vaarwel toegeroep om ’n studentedroom in Pretoria te bewaarheid. “Die enigste verskil tussen ’n groef en ’n graf is sy diepte. Ek het gedink dis tyd vir ’n nuwe uitdaging. In my gemoed het ek geweet ek het iets om Affies te bied vir die toekoms.” Foto: Deaan Vivier

Deesdae doen sy moeite om vriende wat niks met die skool te doen het nie, te prioritiseer.

Dis nou as sy nie aan die einde van elke kwartaal sewe en ’n halfuur lank sit om elke rapport te teken nie.

Of omsien na die bestuur van meer as 120 personeellede by die skool nie.

“Om op te maak vir al die bestuurswerk is ek vreeslik lief daarvoor om soveel moontlik van die kinders se aktiwiteite by te woon. Dan sit ek langs daai netbalbane vir ’n hele langnaweek op ’n slag, later hang ek so skeef op daai stoel. Dan pyn my rug vir sewe dae daarna. Maar dis my keuse, hoor. Dis my keuse.

“Om daar rond te doedel, dáár waar die kinders is, om hulle ou natgeswete lyfies teen my vas te druk en te sê ‘mooi so, pop’.”

Dan sit haar klein hartjie weer in haar keel. “Of, as die traantjies loop, want dit het nie so lekker gegaan nie, om te kan sê: Ek’s trots op jou, man!”

Jordaan is ook die eerste vrou wat verkies is tot visepresident van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), ’n platform waar sy nie skroom om vir die Lesufi’s en die Motshekgas van die wêreld te vertel hoe sake ­rêrig staan nie.

“Ek het eenkeer vir minister Pandor (Naledi, die voormalige minister van onderwys) gewaarsku dat om Afrikaanse skole te vernietig nie swak skole sal red nie. Ek wens ons kon politiek uit die onderwys haal, maar moenie ’n fout maak nie, selfs in die ou Suid-Afrika was dit maar so.

“En ek is so ’n bietjie van ’n hardedinges. As ek aan ’n ding glo, stop jy my nie.”

Sy het in ’n stadium geglo sy kan eiehandig die land se onderwysprobleme oplos.

“Dis hoe voortvarend ek in my kop was, maar ek het gou besef dis ’n bietjie baie om af te byt. Nou het ek besluit om daar waar ek is, ’n verskil te maak. Ja, Afrikaanse Hoër Meisies kry
my beste, maar daar’s werk wat ek vir die breër Suid-Afrika ook wil doen.”

Oor agt jaar sal sy op 65 noodgedwonge moet aftree, maar om op te hou skoolhou, is ­ondenkbaar.

“Ek sal nog móét werk, ek het al gedink ek sal maar in die ­Karoo vir die kinders gaan ­wiskunde gee.”