Wat is jou verantwoordelikhede?


Die sosiale media era het die wêreld byeengebring soos nog nooit tevore nie. Met die druk van ‘n knoppie of die klik van ‘n muis kan ons met enige iemand ter wêreld kommunikeer en inligting deel. Met vrye toegang tot sosiale media en die internet as geheel, het almal toegang tot ‘n baie publieke en permanente platvorm.

Terwyl die meeste internet vaardige volwassenes verstaan dat die internet in ink en nie in potlood geskryf is nie en dat die verkeerde plasing op sosiale media jou reputasie onherstelbare skade kan veroorsaak, is daar steeds mense wat dit bloot net nie begryp nie. Met soveel volwassenes wat hulself nie op die internet beskerm nie, hoe verwag ons dat kinders dit moet doen sonder die hulp van 'n verantwoordelike volwassene?
Met die veelheid van selfies en talle stukke inhoud in die vorm van teks, foto’s of grafika wat ons skep en deel, is ons almal selfgemaakte bekendes en joernaliste. Die probleem daarmee is dat beroemdes in die meeste gevalle 'n span mense het wat hulle help met reputasiebestuur en kommunikasie met die wêreldgemeenskap, en hulle het gewoonlik 'n groot aantal aanhangers wat tot hul verdediging sal spring as hulle aanstootlik of onnadenkend optree. Net so, vir die rol van die joernalis. Mediahuise is baie bewus van hul verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om akkurate nuus te deel en hulle bronne altyd te verifieer. Hulle ken ook die grense wat bestaan in terme van ons reg op vryheid van spraak. Die algemene man / vrou kan nie altyd dieselfde sê nie.

Daar is geen spesifieke wet oor die gebruik van sosiale media in Suid-Afrika nie. Dit maak dit moeilik vir mense om die raamwerk te identifiseer waarbinne hulle moet funksioneer. Die statutêre voorskrifte wat egter bestaan vir enige vorm van openbare kommunikasie ten opsigte van vryheid van uitdrukking enersyds en andersyds betreffende laster en naamskending kan ook op sosiale media toegepas word. As u enige tipe inhoud skep en dit deur een ander persoon gesien word, sal die voorskrifte van toepassing wees. So, of jy iets via ‘n WhatsApp-groep vir 5 mense sê of op Facebook vir 500 mense of op Twitter vir 50 000 mense, sal hierdie inhoud hanteer word asof jy dit op die voorblad van 'n koerant gepubliseer het.

Anonimiteit is 'n mite op die internet. Jy kan nie vir altyd agter jou rekenaar of selfoon skerm wegkruip nie. Jy kan inhoud onder 'n skuilnaam publiseer, maar IT-kundiges het maniere waarop hulle jou IP-adres (Internet Protocol) kan opspoor of hulle kan jou net deur jou RICA-registrasie of GPS-ligging vind. 'n IP-adres is 'n numeriese etiket toegeken aan elke toestel wat aan 'n rekenaarnetwerk gekoppel is, wat die internetprotokol vir kommunikasie gebruik. 'n IP-adres dien twee hooffunksies: gasheer- of netwerk koppelvlak identifikasie en ligging adressering.
As jy nie bereid is om op te staan en 'n verklaring van enige aard te maak of jou privaat besonderhede (of vriende en familie s’n) op 'n wêreldverhoog te deel nie, moet jy dit nie in 'n digitale formaat plaas nie. Sodra inligting in 'n digitale formaat is, is dit heeltemal buite jou beheer.
Dit sal van toepassing wees op privaat boodskappe wat ook via sosiale media gestuur word. Selfs al het jy 'n redelike verwagting tot respek vir jou privaatheid wanneer jy met 'n vriend, familielid of kollega kommunikeer by wyse van direkte teksboodskappe of 'n een-tot-een WhatsApp-gesprek, bestaan die berugte skermgreep nog steeds.

Ongeag die storms wat jy kan veroorsaak deur die grense van vryheid van spraak oor onderwerpe van ras, godsdiens en/of politiek te skuif of om jou ontevredenheid oor jou werkgewer uit te spreek, kan dit jou ook werkloos laat. As jy jou werkgewer in oneer bring en jou plig van goeie trou en lojalitiet versaak, of jou gedrag het 'n negatiewe uitwerking op die diensverhouding, kan jy ontslaan word. Jy moet onthou dat enige wettige, etiese en kontraktuele verpligtinge wat op jou in die werklike lewe van toepassing is, ook van toepassing op jou aanlyngedrag sal wees.
Om inhoud te skep en dit self op sosiale media te plaas, is nie die enigste manier waarop jy in 'n sosiale media-flater betrokke kan raak nie. Sodra iemand die inhoud van ander op die internet begin versprei, word ‘n ketting van publikasie geskep. Enigeen in die ketting van die publikasie van onwettige, immorele of ongrondwetlike inhoud kan verantwoordelik gehou word.

Jy word deel van die ketting wanneer jy:
1. Deel / ‘’retweet’’ / inhoud aanstuur.
2. As jy net ‘n plasing ‘’like / favourite’’.
3. 'n Opmerking oor die inhoud maak of op kommentaar reageer.
4. Of as jy in die inhoud gemerk is of as iemand dit op jou bladsy plaas.
Om in 'n plasing gemerk te wees, is dalk nie 'n direkte aksie wat jy geneem het om die inhoud verder te versprei nie, maar sodra jy die vermoë het om onsmaaklike of onwettige inhoud (of enige inhoud) te kan verwyder en jy kies om dit nie te doen nie, word jy gesien as deel van die ketting van publikasie.
Sommige persone mag besluit om sosiale media heeltemal te vermy en alhoewel dit dalk nie so 'n slegte idee is nie, kan jy as 'n ouer, voog, tutor, onderwyser of enige ander persoon is wat in die posisie is of die geleentheid het om andere en leerders op te voed om goeie digitale burgers te wees, eenvoudig nie bekostig om nie te weet wat op die internet plaasvind nie. As jy ontsteld word deur wat jy op sosiale media sien, poog dan ook om die wesenlike effek op 'n kind wie se lewe ook op sosiale media afspeel, se emosionele- en ontwikkelingswelsyn te begryp en daarmee te simpatiseer.

Of sosiale media net Facebook en Twitter vir jou beteken, of jy die dosyne toepassings wat as sosiale media uitgemaak word kan lys, bly die beginsels om hierdie internetreuse te bestuur dieselfde. Wanneer jy 'n persoonlike rekening oopmaak, maak seker dat jy deur die privaatheidverstellings werk op enige sosiale media-program wat jy mag gebruik. Almal het 'n reg op privaatheid, moenie jou eie grense oortree nie. Let noukeurig op die gebruikersriglyne op die App vir hulp of skakel 'n vriend. Gebruik die eenvoudige THINK-metode voordat jy iets op sosiale media stuur of deel:
T – is it True?
H – is it Helpful?
I – is it Inspiring?
N – is it Necessary?
K – is it Kind?

Verifieer altyd die bron en inligting voordat jy 'n plasing deel. Daar is heeltemal te veel fopnuus wat daagliks die rondtes doen, moenie deel van die skare wees nie.
As jy 'n skoolblad bestuur, skakel die "review post" -instelling aan. Dit sal jou beheer oor plasings wat op die bladsy gemaak word gee en jy sal moontlike probleemsituasies wat deur 'n ontstelde ouer of leerder se plasing gemaak kan word, vermy. Maak seker dat jou skool 'n internet- en sosiale mediabeleid het. Bespreek die beleid met alle personeel en ouers en maak seker dat die leerders hul regte en verantwoordelikhede ten volle verstaan.
Leerders se regte en verantwoordelikhede ten opsigte van die internet en sosiale media gaan verder as die beskerming van hul privaatheid en reputasie. Dit kan selfs help om kuberboeliery te bestry. Kuberboeliery is een van die grootste oorsake van depressie in ons moderne tyd en moet aangemeld word aan nie net die skool en ouers nie, maar ook aan owerhede. Die slagoffers van kuberboeliery kan by die naaste landdroshof aansoek doen om 'n beskermingsbevel ingevolge die Wet op Beskerming teen Teistering, 2011 (Wet 17 van 2011).

Dit is byna onmoontlik om die internet en sosiale media en die uitwerking daarvan op die samelewing te ignoreer. Hou jouself op hoogte van nuwe innovasies en wees die stem van digitale verantwoordelikheid. En, moenie vergeet om die skerms so nou en dan af te skakel nie en sê vir die kinders om te gaan speel ... in die natuur.
by SAOU 14 May, 2024
NN 18/2024: Die SAOU gee graag leiding waar daar onsekerheid is as gevolg van die onderwysdepartement se gebrek om riglyne of beleid te verskaf. Die onderstaande Suid-Afrikaanse wetgewing en beleid het implikasies in ‘n mindere of meerdere mate op die skoolomgewing.
by SAOU 07 May, 2024
NN 17/2024: Regarding the current version [B2D-2022], the SAOU's legal team is of the opinion is that with the Bill in its present form there are no adequate constitutional grounds for litigation to interdict its implementation.
by SAOU 02 May, 2024
NN 16/2024: The Department of Public Service and Administration DPSA) has released the salary notches for 2024/2025.For information on the 2024 salary adjustment...
More posts
Share by: