DIE OMGEKEERDE KLASKAMER-MODEL

Ted Townsend

Wat dink jy beteken die uitdrukking 'Omgekeerde Klaskamer'?

As nuuskierige leek wil ek nét die volgende weet: Wat is die omgekeerde klaskamer-model in 'n neutedop? Hoe realiseer dit in die praktyk? Watter implikasies het dit vir ‘n kind, ouer en onderwyser ? En wat maak dit beter as die tradisionele model, indien enigsins?
In wese fokus die idee van die omgekeerde klaskamer-model op aktiewe leer en leerderbetrokkenheid. Tydens die tradisionele metode van onderrig, ontvang leerders normaalweg nuwe inligting of insette vanaf die onderwyser. In die omgekeerde klaskamer-model maak leerders kennis met die nuwe vakinhoud vóórdat hulle klas toe gaan, in hulle éie tyd. Hulle kan die inligting op verskeie wyses bekom, deur by voorbeeld na relevante video’s te kyk, soos voorgestel deur die onderwyser, 'n verkenningsopdrag te voltooi, na stemopnames te luister of deur met hul ouers of ander persone oor die spesifieke onderwerp te gesels.
Gedurende die volgende les kry leerders die geleentheid om hul insigte van die nuwe leerinhoud in ʼn klasgesprek met die onderwyser te deel. Klastyd word dus gebruik om vrae te stel, besprekings en verduideliking van idees en/of konsepte wat leerders moontlik moeilik gevind het. Die onderwyser kry nie net die geleentheid om regstellings te maak nie, maar is ook gids en mentor om die nuwe inligting/konsepte verrykend aan te vul. Dit is juis hiér waar die metakognisieproses, die sogenaamde dink-oor-die-dink-proses, plaasvind. Klastyd word dus in ʼn werkswinkel omskep. Die proses word afgesluit met ʼn projek of opdrag waarin die leerlinge hul insigte demonstreer en nuutverworwe kennis weergee.
In die tradisionele klassituasie gebeur dit dikwels dat baie leerders nie altyd die inligting ten volle "begryp" nie en nie noodwendig "krities" of “diep” dink waaroor die onderwyser praat nie. Deur onderrigtyd so te benut dat leerders self, vooraf, kennis met die basiese beginsels van 'n nuwe vakinhoud gemaak het, het onderwysers én leerders meer tyd tydens lestyd om ondersoekend, produktief en kreatief by die leerproses betrokke te wees.
Kortom: Die benadering is leerdergesentreerd. Dit wil sê, voorstudie, bemagtig die leerder vir die leerproses wat deur die onderwyser ingelei word. Die onderwyser se rol is dié van fasiliteerder en mentor. Die klem verskuif dus van die blote verwerwing van kennis na ʼn daadwerklike poging om dit te bemeester. Die klaskamer en wat daarin gebeur word meer dinamies. Interaksie tussen leerders en onderwysers is spesifiek gemik op gesamentlike en kreatiewe probleemoplossing en die toepassing van die nuutverworwe kennis op werklike, relevante probleme.
Die voordele van die omgekeerde klaskamer-model, gesien in die lig van bogenoemde, word nóg duideliker wanneer die eise wat die 21ste eeu, in ag geneem word. In ʼn snelveranderende wêreld sal bestaande beroepe verdwyn en nuwe beroepsmoontlikhede sal ontstaan. Om in die toekoms suksesvol te wees, sal leerders vandag geleer moet word om aanpasbaar en pro-aktief te wees asook om innoverend te dink.
Kernvrae en antwoorde
Hoe bevorder hierdie model selfwerksaamheid?
Die werk wat geassesseer word, word in die klaskamer gedoen. Die leerder se vaardigheid in pro-aktiewe probleemoplossing, kommunikasie, samewerking, eksperimentering, kritiese denke en kreatiewe uitdrukking word deur uitvoering van die projekte en take wat in die omgekeerde klaskamer-model aangepak word, duidelik. Die gehalte van die leerder se voorstudie en die mate waartoe verantwoordelikheid vir die leerproses aanvaar word, sal die sukses binne die omgekeerde-klaskamer –model bepaal.
Wat is die rol van die ouer in die toepassing van die omgekeerde klaskamer-model?
Die ouer moet die kind aanmoedig om pligsgetrou die verkennende opdrag te voltooi maar ook met die ouer te deel sodat die nodige ondersteuning gebied kan word. Op die wyse kan die ouer bydra tot ʼn ryker, dieper kennis waarmee die leerder sy projekte sal kan aanpak en afrond.
Wat is die implikasies van die omgekeerde klaskamer-model vir die onderwyser?
Soos vroeër vermeld, lê die fokus in die omgekeerde klaskamer-model op die ontwikkeling van vaardighede en nie bloot op die voltooiing van die inhoud van ʼn kurrikulum nie. Leerderbetrokkenheid in ʼn dinamiese, interaktiewe leeromgewing is ʼn kenmerk van die omgekeerde klaskamer-model. Die model verg nie méér voorbereiding van die toegewyde, professionele opvoeder nie maar wel ʼn paradigmaskuif. Die wagwoord is ‘samewerking’ tussen fasiliteerder en leerder, tussen leerder en leerder; die uitruiling van inligting, analise, kreatiewe toepassing en benutting van die nuutgeleerde kennis met ʼn klem op beredenering in die plek van blote memorisering.
Beteken die omgekeerde klaskamer-model dat alle lesse omgekeer moet word?
Nee. As professionele opvoeder sal die onderwyser besluit watter metode vir bepaalde lesinhoud die beste sal werk. Sodra die omgekeerde klaskamer-model bemeester is, is dit egter onwaarskynlik dat enige ander benadering vir die ernstige en toegewyde leerder bevredigend sal wees.
Is die gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) noodsaaklik vir suksesvolle toepassing van die omgekeerde klaskamer-model?
Nee. IKT is baie waardevol wanneer dit innoverend gebruik word om die leeromgewing te verbeter maar indien dit nie beskikbaar is nie, is dit 'n geleentheid vir die onderwysers en die leerders om hulle eie innoverende en kreatiewe idees in te span.
In die klassikale opset kan die onderwyser nie al die konsepte, idees en kennis binne die bestek van die lesstruktuur en tydsduur afhandel nie. Maar wanneer leerders in die omgekeerde klaskamer-model klas toe kom weet hulle reeds wat hulle nie verstaan nie en waar hulle voel hulle gehelp moet word. Die onderwyser fasiliteer dan in aktiewe samewerking met die groep die leerproses om hulle dan na die volgende vlak van 'weet' en die toepassing daarvan, te lei. Sodoende, word die grondslag gelê vir leerders om produktief en kreatief aan die samelewing van die toekoms deel te neem, en les bes, dit berei hulle uimuntend voor vir die eise van die universiteit en die kompeterende arbeidsmark van more.
by Anet Burns, Departementshoof, Laerskool Monumentpark, Pretoria 16 Jan, 2024
Jy het uiteindelik jou studies voltooi en met die aanbreek van die nuwe skooljaar sien jy uit na jou heel eerste onderwyspos. Hulpmiddels vir jou klas word gemaak en gekoop, en van die kalender tot verjaarsdagplakkaat pas alles by die oulike tema wat jy gekies het. Op sosiale media sluit jy fluks aan by die onderwysergroepe en vra raad by ander. Alles sodat jou eerste dag sonder enige haakplekke kan verloop! Alhoewel daar ‘n magdom praktiese wenke is wat jou nuwe kollegas met jou sal deel, is dit belangrik om te onthou dat elke kind, klas, skool, jaar en ouergemeenskap van mekaar verskil. Planne en tegnieke wat by kollega A se plattelandse skool in die Noord-Kaap ‘n treffer is, sal dalk nie by jou voorstedelike skool in Gauteng so suksesvol wees nie. Tyd en ervaring het egter geleer dat daar wel ses basiese dinge is wat alle onderwysers (meestal) positief en produktief sal hou - maak nie saak waar of hoe lank jy skoolhou nie.
by VivA • 19 Jul, 2023 19 Jul, 2023
Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel ; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail , soos in Sy het ’n oog vir detail ? Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
by J van den Berg 02 Jun, 2023
Onderrig is 'n veeleisende beroep wat baie fisiese en geestelike energie verg. Met lang ure en 'n besige skedule kan dit vir onderwysers uitdagend wees om die tyd en energie te vind om goed te eet. Om seker te maak dat jy 'n gebalanseerde en gesonde dieet eet, is egter noodsaaklik om goeie gesondheid te handhaaf en op jou beste te presteer. In hierdie blogpos bespreek ons 'n paar wenke vir onderwysers om goed te eet en gesond te bly.
More posts
Share by: