Die skielike instelling van sosiale distansiëring het meeste van ons onkant gevang en staar elke skool en onderwyser unieke uitdagings in die gesig. Elke dag wat verbygaan probeer opvoeders, sowel as gesinne om die onseker en onbekende situasie te hanteer. Sal die isolasietermyn verleng word? Gaan die skooljaar verlore? Hoe kan leer voortgaan terwyl kinders vir weke lank tuis sit? Wie sal na die kinders omsien? Die kurrikulum is reeds lywig soos dit tans daaruit sien.

Alhoewel die SAOU leerders en opvoeders aanmoedig om hierdie kosbare tyd as gesin te koester en vol hoop is dat die skole weer binnekort sal heropen, deel ons graag opsies van afstandonderrig wat oorweeg kan word. 

Die onderstaande lys van opvoedkundige toepassings, platforms en hulpbronne is daarop gemik om ouers, onderwysers en skoolbesture te help om afstandonderrig vir leerders te fasiliteer, maar ook om sosiale versorging en interaksie gedurende ‘n moeilike en onseker tydperk te bied. Die meeste van die opsies is gratis en gebruikersvriendelik en alhoewel dit nie deur die SAOU onderskryf kan word nie, is dit van die opsies wat tans oorwegend in die Suid-Afrikaanse skoolkonteks gebruik word. 

Moodle, ‘n leerbestuurstelsel, wat gratis is vir tot 50 gebruikers, bied talle funksies insluitend videokonferensies en gebruik ook spel (gamification) om leer pret te maak.  

ClassDojo word reeds baie effektief in talle Suid-Afrikaanse skole gebruik en bied soveel meer as ‘n kommunikasieplatform. Foto’s en video’s kan ook gelaai en versprei word, terwyl opvoeders vir leerders direk kan terugvoer gee.

Google Classroom, bied talle oplossings omdat dit spesiaal vir die Onderwys ontwikkel is en is ideaal vir opvoeders wat dit eenvoudig wil hou. Met behulp van ‘n gedeelde werkplatform soos Google se G Suite-sagteware kan lesse gedeel word. ‘n Gedeelde klasprogram met skakels na take en ondersteuningsmateriaal kan op ‘n Google Doc geskep en gedeel word, terwyl lesse deur middel van Google Slides aangebied word. Google Forms is ideaal vir assesserings, vasvrae en meningspeilings. 


Remind is nog ‘n platform waar lêers, dokumente en instruksies (take) met leerders gedeel kan word en dit bied ook ‘n funksie wat tweerigting kommunikasie moontlik maak sodat opvoeders na individuele leerders kan uitreik. Dink net aan die potensiaal wat dit in terme van differensiasie bied! 
Hou leerders betrokke en geïnteresseerd deur gereeld aanlynmeningspeilings te deel. Leerders kan ook hierdie platform gebruik om terugvoer te gee na afloop van ‘n les deur middel van afstandonderrig. Google Forms of die gratis proefweergawe van Survey Monkey kan gebruik word om in voeling te bly met leerders se behoeftes. 

Jy kan fantastiese take vir leerders gee, maar die sukses van jou afstandonderrig sal soveel groter wees as leerders jou teenwoordigheid as onderwyser kan voel. Video’s is so ‘n belangrike deel van afstandsleer en ‘n goeie manier om verhoudings te onderhou. ‘n Bekende gesig sal leerders se aandag trek terwyl jou betrokkenheid verhoudinge en begrip by leerders bou. Skype, Zoom, Hangouts en Hangouts Meet kan gebruik word om in kontak met leerders te bly. Onthou egter om reëls en riglyne vir aanlyn-veiligheid duidelik aan leerders en ouers te kommunikeer. 

Baie onderwysers is senuweeagtig om video’s te maak, maar dit sal nie lank duur voordat jy besef dat jou video’s nie perfek hoef te wees nie en leerders sal jou moeite waardeer.  

Een van die talle bekommernisse wat opvoeders tans ervaar, is die feit dat ‘n groot persentasie van ons leerders nie toegang tot die internet het nie. Vir hierdie leerders kan WhatsApp oorweeg word. Maak seker dat reëls rakende die veilige en verantwoordelike gebruik van die groep duidelik aan leerders en ouers gekommunikeer word. 
WhatsApp is ‘n goeie manier om in kontak te bly met leerders en ouers. Indien jy nie reeds leerders se selfoonnommers het nie, skep ‘n universiële skakel wat leerders kan gebruik en deel dit via e-pos, jou Facebook-bladsy of enige ander nie-openbare kanaal. Lesse kan ook via WhatsApp aangebied word deur middel van teks- en stemposboodskappe of videolesse. Leerders kan lesse ontvang en stuur deur middel van ‘n Broadcast group sodat die voltooide opdragte net aan jou deurgegee word. Gebruik WhatApp Web om ‘n groot aantal boodskappe vinnig en doeltreffend van jou rekenaar af te stuur. 

Opvoeders
'n Positiewe houding en 'n aanpasbare ingesteldheid is die sleutel om die oorgang na aanlynleer so vlot as moontlik te maak. Daar is 'n mate van bevryding wanneer jy besef dat die hele wêreld onvolmaak aanpas by 'n nuwe werklikheid en niemand verwag dat dinge normaal gaan voortgaan nie. Aanlynleer kan ‘n geleentheid bied om met kreatiewe oplossings vorendag te kom, nuwe truuks aan te leer en in ‘n nuwe konteks met leerders te skakel met die ondersteuning van die ouers. 
Alhoewel sommige kenners beweer dat lesse deur middel van video’s nie noodwendig die mees doeltreffende is nie, is dit wel die maklikste manier. Onder die omstandighede is dit beter as niks. As jy dink dit is moeilik om leerders in ‘n klas te boei, kan jy dink hoe moeilik dit aanlyn kan wees! Hou lesse kort vir groter impak en maak seker dat jy alle aanlyn-sessies opneem vir leerders wat nie regstreeks kan inskakel of tans toegang tot data het nie. Groot videolêers kan in Dropbox of selfs op YouTube geplaas word verspreiding en storing. Onthou ook dat jou reeds bestaande les in Microsoft Powerpoint ook in ‘n video omskep kan word, jy kan selfs jou stem opneem en aanlas.  
Wanneer jy ‘n video-les opneem let ook op die beligting en onthou om ‘virtuele oogkontak’ met jou leerders te maak sowel as om te glimlag en te lag selfs wanneer leerders jou nie kan sien nie. Baie leerders mis hul onderwysers. Party is bang en angstig. Fokus op die emosionele welstand van jou leerders en hou jou band met leerders in stand. Dit is veral belangrik vir kwesbare leerders gedurende hierdie tyd. Onthou om ook pret te hê deur middel van gepaste prentjies, strokiesprente of humoristiese kort video’s om die klasgemeenskap te behou en leerders emosioneel te ondersteun. Laat leerders foto’s of verhale deel van wat hul elke dag by die huis doen. Dit kan baie insiggewend wees in terme van die huislike omstandighede waarin van jou leerders hul tans bevind. Hierdie inligting moet egter baie konfidensieel en sensitief hanteer word, terwyl die nodige ondersteuning so spoedig moontlik voorsien moet word. 
Maak seker dat jy “kantoor-ure” beskikbaar is om leerders aanlyn te ondersteun. Maak gebruik van platforms soos WhatsApp of Google Hangouts om leerders in kontak met mekaar te plaas, want hulle hou daarvan om klasmaats te vra wanneer hul met ‘n spesifieke onderwerp sukkel en is gewoond daaraan om in klasverband saam te werk. Moenie dink dat jy die hele KABV in ‘n aanlynkursus gaan omskep nie. Vra jouself af: 'Wat kan ek hierdie week doen? Wat kan ek gedurende die volgende twee dae doen om in die behoeftes te voorsien?” Opvoeders moet mooi dink oor die formaat, asook aard van huiswerk wat aan ouers gestuur word. Bitter min ouers het in hierdie tydperk toegang tot drukkers en skryfbehoeftes en dit plaas gesinne onder druk en veroorsaak onnodig spanning in huishoudings. Die gratis toep Snaptype kan gebruik word om ‘n invul-werkkaart in ‘n interaktiewe elektroniese taak te omskep, wat voltooi, gestoor en teruggestuur kan word. Oorweeg projekgebaseerde leer (PBL) om leerders bloot te stel aan unieke, uitgebreide en ingewikkelde leer. Hierdie is die ideale tyd om leerders op aanlyn uitstappies na virtuele museums te stuur of selfs Skype-lesings deur spesiale gassprekers aan te bied.  
Hoe jy ookal besluit om hierdie uitdaging aan te pak, wees geduldig met jouself en geniet die nuwe leerervaring! 

Skoolbesture
Leierskap is kritiek gedurende hierdie tyd en leiers/skoolbesture moet onthou dat hul eerste prioriteit die welstand en geestelike gesondheid van hul opvoeders moet wees. Die angs wat veroorsaak word deur die ontwikkelende krisis word vererger met onderwysers wat nou hul eie kinders het om tuis te versorg, moet omsien na siek familielede of self siek kan word, en boonop hul huishoudings moet bestuur. Dit is in dié konteks waarin sommige onderwysers gevra word om hul klas- en lesaanbiedings aan te pas. Ideaal gesproke sal hulle genoeg tyd gegun word om hul lewens te organiseer en hul klasse op te stel voordat hulle met onderrig begin. Dit is ook belangrik dat skoolbesture toeganglik en empaties sal wees om sodoende die vinger op die pols te hou in terme van behoeftes en sodat hul die beste moontlike ondersteuning kan bied. Skoolbesture moet leiding verskaf rakende afstandonderrig, skoolbeleide, asook kubersekuriteit en realistiese verwagtinge stel. Alhoewel daar talle skole is wat reeds gebruik maak van ‘n afstandonderrig-model, is daar baie skole wat nog in die duister is rakende die opsies. Vra raad by ander skole, doen aanlynnavorsing of skep ‘n aanlyn-span wat navorsing kan doen rakende watter opsie die beste by die skool se konteks sal inpas. 
Die SAOU is deeglik bewus van die realiteite daarbuite. Baie skole en leerders kan nie op virtuele leer staatmaak nie omdat baie van ons gemeenskappe om verskillende redes nie toegang daartoe het nie. Ons raai dus skole en opvoeders aan om te begin dink aan ‘n opvangprogram, asook intervensies wat sal moet plaasvind om leerders te ondersteun. 


by SAOU 16 Apr, 2024
NN 14/2024: In die Nasionale Nuusbrief 12/2024 (klik hier) is berig dat die 4,7% algemene salarisaanpassing m.i.v. 1 April 2024 geïmplementeer word.
Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)...
by SAOU 09 Apr, 2024
NN 13/2024: Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) rakende geslaggebaseerde skooluniforms, het die debat oor diversiteit opnuut in skole laat opvlam.
More posts
Share by: