Beginneropvoeders – Moets en moenies


Jy het jou loopbaan gekies, gaan studeer en nou staan jy voor ’n klas as ’n gekwalifiseerde onderwyser. Skielik wonder jy of jy regtig geroepe is hiervoor. Het dit wat jy op universiteit geleer het, jou werklik voorberei vir al die uitdagings wat jy op ’n daaglikse basis gaan ervaar? Leerders, ouers, bestuur en boonop nog beplanning én stapels merkwerk. 

Moenie bekommerd wees nie! Jy is nie alleen nie. Baie sal saamstem dat die teorie en die praktyk soos dag en nag verskil. Bou egter vir jou’n arsenaal van idees, strategieë en metodes op en jy gaan die jaar baie makliker omkry as wat jy gedink het. Hier is solank ’n paar wat reeds op die proef gestel is en werk! 

Een van die grootste uitdagings wat hedendaagse onderwysers beleef, is dissipline en klaskamerbestuur. Talle beginnneropvoeders het al die raad gekry: “Jy smile nie voor April nie.” Net soos wat elke leerder in jou klas sy eie persoonlikheid en verkose leerstyl het, so het elke onderwyser sy/haar eie onderrigstyl wat jy met ondervinding sal ontdek, aanpas en verfyn. Wees ingelig oor die skool se dissiplinê beleid en vind wat vir jóú binne die riglyne van die beleid werk. 

Onthou om altyd betyds en goed voorbereid te wees. Dissipline begin met die voorbeeld wat jy as persoon stel. Dit begin ook voordat die leerders jou klas betree en gee die toon aan vir die res van die les. Wees ferm, stel duidelike grense en hou daarby. Kinders kom dadelik agter indien jy nie reëls konsekwent toepas nie, waarskuwings nie deurvoer nie of leerders onregverdig behandel. Wanneer leerders deel is van die besluit en verstaan waarom die spesifieke reëls belangrik is, sal hulle dit makliker volg. Waardes moet gebruik word as basis vir die klasreëls wat dan in die klaskamer vertoon en gereeld na verwys word. Hoe harder hulle werk en hoe besiger die kinders is, hoe minder tyd is daar vir streke. 

Met verloop van tyd sal jy jou klasse leer ken en weet hoe om elkeen te hanteer. Onthou dat jy die volwassene in die klas is wat in ’n professionele hoedanigheid voor die kinders staan. Moet daarom nooit in ’n argument met ’n leerder betrokke raak nie. Veral nie voor die res van die klas nie. Nie-verbale waarskuwings kan aangewend word om die situasie te ontlont voordat dit eskaleer. As jy leerders afkraak en slegsê voor ander, gaan jy net jouself benadeel en boonop baie sleg voel as jy daardie aand in jou bed lê en terugdink aan die dag. Gewoonlik is daar ’n rede vir ’n leerder se uitdagende gedrag. Doen dan moeite om die leerder te leer ken en saam strategieë te vind wat vir julle albei werk. 

Alhoewel dit met groeiende klasgroottes toenemend moeiliker raak, probeer om jou leerders persoonlik te leer ken. Hoe gouer jy die leerders se name ken, hoe makliker sal jou dissipline wees, maar wees versigtig om nie te wys dat jy eerste die moeilikste kinders in die klas se naam ken nie. Prys positiewe gedrag meer as negatiewe gedrag. Nie net laat dit leerders goed voel nie, maar motiveer ook ander om die positiewe gedrag na te boots. Laat hul spesiaal voel deur te vra hoe dit nou met Sokkies, die woef, gaan of gesels oor hul belangstellings. 

Ongelukkig wil baie beginneronderwysers hê dat leerders van hulle moet hou en tree dan onvanpas op. Bly professioneel, vermy fisiese kontak en moenie te vriendelik met leerders wees nie - maak vriende met jou eie ouderdomsgroep. 

Almal hou van ’n mooi werksomgewing en die kinders in jou klas is geen uitsondering nie. ’n Mooi en georganiseerde werksomgewing is inspirerend, maar onthou dat elke prentjie of plakkaat toepaslik en van opvoedkundige waarde moet wees. Dit moet aangepas kan word na gelang van konsepte wat leerders moeilik vind. Indien hulpbronne die eerste keer behoorlik gemaak word, kan dit tyd en geld oor die lang duur spaar. Neem beheer van jou klas en modelleer jou verwagtinge. As jy netjiese leerders, boeke en werk verwag, moet jy dit demonstreer aangesien kinders leer deur te sien. Jy is ’n rolmodel; vir sommige die enigste positiewe rolmodel. 

In ‘n onlangse studie is bevind dat hedendaagse onderwysers,ouers as die tweede grootste uitdaging beleef. Navorsing in Duitsland, Amerika en Engeland het getoon dat dit nie net in Suid-Afrika is waar ouers die rede is dat soveel beginneropvoeders die onderwys verlaat nog voor die ink op hul kwalifikasie behoorlik droog is nie. As onderwyser sal jy met verskillende tipes ouers te doen kry. Van die helikopter-ouer wat té betrokke is en alles namens hul bloedjie wil doen, tot die spook-ouer. Jy sien die naam op die kind se rekord, maar kan teen die einde van die jaar nog nie ’n gesig by die naam plaas nie. Dan is daar ook Vulkaan-ouers wat oor die geringste dingetjie ontplof. Die ideaal is natuurlik die duikboot-ouer wat uit die oog bly, maar vinnig na vore kom indien nodig. 

Ongeag watter tipe ouer jy mee werk, jy moet altyd professioneel en bedagsaam bly. Kommunikasie is van die uiterste belang. Onthou om die regte vrae te vra sonder om aanvallend te wees. Soos jy, wil ouers net die beste vir hul kinders hê. Probeer egter om nie een van daardie onderwysers te wees wat net die draer van slegte nuus is nie. Wanneer jy ook goeie nuus huis toe stuur, sal ouers baie meer gewillig en ondersteunend wees wanneer daar wel probleme opduik. Moenie wag tot die einde van die jaar nie, kontak ouers dadelik en hou rekord van alle kommunikasie wat ook as bewys van intervensie dien. Aangesien baie ouers werk, is dit ’n goeie idee om uit te vind watter tydgleuf en vorm van kommunikasie hulle pas. Die onderwyser en ouer(s) staan in ’n vennootskap en moet saamwerk aan die gemeenskaplike doel. Dit is egter nie aanvaarbaar dat ’n ouer jou boelie nie en indien ’n ouer jou ongemaklik laat voel, mag jy vra dat ’n senior personeellid teenwoordig is. Onthou die goue reël: Hanteer ander soos jy wil hê hulle jou moet hanteer. 

Jy het die universiteit se stof van jou voete afgeskud en staan nou in ’n professionele wêreld met sy eise. Jy staan heeldag voor kinders en moet daarom gepas aantrek. Rek en buk soggens voor die spieël om seker te maak dat niks onwelvoeglik uitsteek nie. Sekere juweliersware kan steurend wees vir leerders, aandag trek na die ongepaste areas of selfs ’n veiligheidsrisiko vir jou en die kind wees. 

Menigmaal ontstaan konflik onnodiglik as gevolg van kultuurverskille. Wees sensitief ten opsigte van kultuurverskille en vra indien jy onseker is. Baie van ons vergeet dat ons nie almal uit dieselfde agtergrond kom nie. Voorbeelde wat in die les gebruik word, take of selfs sommige tekste kan onsensitief voorkom. Hoe weet jy dat almal in die klas weet hoe die see lyk? Baie leerders kom uit enkelouerhuise of het nie eers vanoggend brood gehad om te deel nie, wat nog van ’n lekker ryk sjokoladekoek wat in drie gedeel moet word om die som op te los! 

Moet nooit te bang wees om te vra nie, selfs al moet jy die kwaai juffrou wat al jare op dieselfde groen stoel in die personeelkamer sit, vra. Volg die korrekte lynfunksie en beskerm jouself deur al die moontlike beleide te ken. “Ek het nie geweet nie ...” is ongelukkig nie ’n geldige verweer nie. Bou goeie menseverhoudinge met kollegas al hou jy nie noodwendig van hulle nie. Moenie skinder nie en hou jou persoonlike lewe van die stoepe af. Dit word vir ‘n rede ’n “privaatlewe” genoem– want dit is privaat! Om jou hele lewe by wyse van onvanpaste foto’s en opmerkings op Facebook uit te blaker, is nie ’n goeie idee nie. Om die leerders in jou klas op Facebook te bevriend is ’n nog swakker idee. Die ergste is natuurlik om jou werkgewer of ’n kollega op sosiale media swart te smeer. As jy nie wil hê jou ma moet dit sien nie, moet dit nie op Facebook wees nie! As dit eers daarbuite is, kan jy dit nooit weer verwyder nie en boonop kyk werkgewers toenemend na die sosiale mediaprofiele van voornemende werknemers. 



As jy by wyse van WhatsApp kommunikasiegroepe vestig, moet elke deelnemer bewus daarvan wees dat dit nie ‘n informele gespreksforum is nie. Die moet verkieslik ‘n eenrigting groep wees waarvolgens met ouers en/of leerders gekommunikeer kan word. Daar is die afgelope ruk twee baie prominente voorbeelde van skoolbesprekingsgroepe wat tot groot verleentheid verkeerdelik gebruik is vir informele kommunikasie. Die oogmerk moet wees om formele inligting betreffende die skool- of sportreëlings, toetse, eksamens, ens. te deel – niks anders nie!

Niemand weet dadelik alles nie, selfs al dink jy op hierdie stadium so. Die waarde van mentorskap moet nooit onderskat word nie en het ten doel om ondersteuning, groei en werksbevrediging te bevorder. Daar is gevind dat baie nuwe onderwysers geïsoleerd voel en dikwels met selfvertroue sukkel. Een van die beste maniere om te leer, is deur waarneming. Dit kan die kleinste dingetjie wees wat jy by ’n kollega sien wat baie waarde kan toevoeg. Observasie van ander onderwysers is van onskatbare waarde en nog ’n manier om jou arsenaal van strategieë op te bou. Hoe meer jy leer, hoe meer weet jy!

Jy gaan hierdie jaar baie harder werk as vantevore en daarom is dit baie belangrik om na jou gesondheid en persoonlike verhoudings om te sien. Jy gaan nagte om, naweke en vakansies werk en jy gaan ongelukkig belangrike mense in jou lewe minder sien. Maak tyd vir jouself, neem vitamienaanvullings, maak seker jy eet gesond en slaap genoeg. Luister as jou liggaam begin protesteer. Onthou, ongeag hóé baie jy dit geniet, skoolhou bly net ’n werk en mag nie die oorsaak wees dat jy jou eie gesin, familie of vriende afskeep nie. Prioritiseer en leer om nee te sê, want jy kan nie uit ’n leë beker skink nie!

Indien jy probleme ervaar, praat met iemand. Almal was op een of ander stadium ’n beginner. Leer elke dag, kyk na jouself en die belangrikste van alles – geniet dit! 

by SAOU 23 Apr, 2024
NN 15/2024: The South African Council for Educators (SACE) is a professional Council for educators which aims to enhance the status of the teaching profession through registration, manage the professional development of educators and ensure that educators act in a professional and ethical manner.
by SAOU 16 Apr, 2024
NN 14/2024: In die Nasionale Nuusbrief 12/2024 (klik hier) is berig dat die 4,7% algemene salarisaanpassing m.i.v. 1 April 2024 geïmplementeer word.
Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)...
by SAOU 09 Apr, 2024
NN 13/2024: Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) rakende geslaggebaseerde skooluniforms, het die debat oor diversiteit opnuut in skole laat opvlam.
More posts
Share by: