WOORDSOORTE - Die haker, die hakker en die Gordiaanse knoop

VivA - Sophia

Die haker, die hakker en die Gordiaanse knoop

Een van die groot spelverwarrings in Afrikaans tree in by die woorde hak en haak. 

Dit gaan hier oor meer as net die verkeerde gebruik van twee verskillende woorde, dit gaan ook hier oor verwarring van homonieme, want hak en haak kan albei ʼn selfstandige naamwoord of ʼn werkwoord wees. En as jy nou nog by hierdie reeds onheilige brousel die verkleiningsvorm ook ingooi (het ek nou hierdie deel van die teks tussen hakkies of tussen hakies geplaas?) en die afleiding waarmee ʼn mens na die ou in die skrum met die blomkoolore wil verwys (is hy ʼn hakker of ʼn haker?) het ons kort voor lank ʼn Babelse verwarring.

Hier is die oplossing:
• Die selfstandige naamwoord haak is die ding agter ʼn deur of in ʼn aantrekkamer waaraan jy jou klere ophang. ʼn Slagter hang ʼn karkas aan ʼn haak en ʼn visterman gebruik ʼn haak om groot visse uit die see te trek. Die meervoud van hierdie gekromde instrument is hake en die verkleiningsvorm is hakie. Die gekromde leesteken wat ʼn mens in tekste gebruik om ʼn parentese aan te dui, is ʼn hakie, en omdat dit altyd in ʼn paar gebruik word, is dit hakies. (Tussen hakies: Jy plaas die parentese tussen hakies nie in hakies nie.)
• Die werkwoord haak is die handeling wat jy met ʼn haak uitvoer, of die beweging wat jy met ʼn ander instrument of liggaamsdeel uitvoer wat soos ʼn haak werk. Die slagter haak karkasse aan ʼn haak. Die visterman haak groot visse met ʼn haak. En die rugbyspeler met die fraai ore haak die bal met sy voet (hopelik) as die skrumskakel dit ingooi. Omdat hy die bal haak, is hy die haker.
• Die selfstandige naamwoord hak verwys na die agterkant van ʼn voet, of die deel van ʼn skoen waarop jy met die agterkant van jou voet trap. Die meervoud van hierdie woord is hakke (jy volg byvoorbeeld figuurlik op iemand se hakke) en die verkleiningsvorm daarvan is hakkie (die jong meisie trippel op hoë hakkies rond).
• Die werkwoord hak is ʼn ou woord wat 'kap' beteken en wat ons eintlik nog net in twee kontekste ken. Ons verwys in Afrikaans na houthakkers en waterdraers as ons na verarmde mense verwys wat handearbeid verrig. Daardie houthakkers is houtkappers, soos die manne in Dalene Matthee se bosstories. Die ander konteks waarin ons die woord ken, is die knoop deurhak, wat beteken dat ʼn mens ʼn slim oplossing vir ʼn moeilike situasie kry. Ek vermoed baie mense dink hier aan ʼn hekelpen wat wol deur gekompliseerde hekelwerk trek, maar dit is nie korrek nie. Die uitdrukking verwys na die storie waarin Aleksander die Grote op ʼn wa van Gordius, die koning van Frigië in Klein-Asië, afgekom het wat met ʼn vreeslik ingewikkelde knoop aan ʼn paal vasgemaak is. Volgens oorlewering sou die persoon wat hierdie ingewikkelde knoop kon losmaak oor die hele Asië regeer. Aleksander het daar en dan vir sy manskappe gedemonstreer dat hy dié persoon is, deur eenvoudig sy swaard uit te pluk en die knoop middeldeur te kap. Die grootste kryger in wêreldgeskiedenis het dus die Gordiaanse knoop deurgehak, nie ʼn wolletjie deur hekelwerk gehaak nie.

Mag die bestuurders vanmiddag van jou hakke af bly, mag die gaping tussen die hakie en ogie van jou gunstelinglangbroek beduidend krimp, en mag jou geliefde span se haker tydens die vyftreëskrum die knoop deurhak deur die bal na die agsteman toe deur te haak. En as hy dit dan nou nie regkry nie, mag die ander span se vaskopstut ten minste aan die slaap wees.

VivA-groete

Sophia



by Anet Burns, Departementshoof, Laerskool Monumentpark, Pretoria 16 Jan, 2024
Jy het uiteindelik jou studies voltooi en met die aanbreek van die nuwe skooljaar sien jy uit na jou heel eerste onderwyspos. Hulpmiddels vir jou klas word gemaak en gekoop, en van die kalender tot verjaarsdagplakkaat pas alles by die oulike tema wat jy gekies het. Op sosiale media sluit jy fluks aan by die onderwysergroepe en vra raad by ander. Alles sodat jou eerste dag sonder enige haakplekke kan verloop! Alhoewel daar ‘n magdom praktiese wenke is wat jou nuwe kollegas met jou sal deel, is dit belangrik om te onthou dat elke kind, klas, skool, jaar en ouergemeenskap van mekaar verskil. Planne en tegnieke wat by kollega A se plattelandse skool in die Noord-Kaap ‘n treffer is, sal dalk nie by jou voorstedelike skool in Gauteng so suksesvol wees nie. Tyd en ervaring het egter geleer dat daar wel ses basiese dinge is wat alle onderwysers (meestal) positief en produktief sal hou - maak nie saak waar of hoe lank jy skoolhou nie.
by VivA • 19 Jul, 2023 19 Jul, 2023
Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel ; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail , soos in Sy het ’n oog vir detail ? Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
by J van den Berg 02 Jun, 2023
Onderrig is 'n veeleisende beroep wat baie fisiese en geestelike energie verg. Met lang ure en 'n besige skedule kan dit vir onderwysers uitdagend wees om die tyd en energie te vind om goed te eet. Om seker te maak dat jy 'n gebalanseerde en gesonde dieet eet, is egter noodsaaklik om goeie gesondheid te handhaaf en op jou beste te presteer. In hierdie blogpos bespreek ons 'n paar wenke vir onderwysers om goed te eet en gesond te bly.
More posts
Share by: