Taalsuiwerheid – hoofbrekens oor "brekende nuus"

Deel van my werk is om daagliks op VivA se Facebookblad ʼn meem oor een of ander taalinteressantheid te plaas. Ons doen dit vir bewusmaking en bemarking, van VivA, van ons dienste en van Afrikaans. Dit werk lekker – onderwysers het my al laat weet hulle druk die meme en plaas dit op hulle klaskamers se mure, en "gewone" taalgebruikers kom vra of kla of stry daar oor die saak. Dis lekker om te sien hoe betrokke almal is en hoe vurig hulle nog oor Afrikaans kan raak. Maar soms kry die ding ʼn suur noot en moet ʼn mens ingryp om net weer die gemoedere tot bedaring te kry. 
So het dit hierdie week gegaan oor my plasing oor "brekende nuus". Daarin dui ek aan dat "brekende nuus" die erkende, gestandaardiseerde vertaling is vir "breaking news". En, soos gewoonlik, het ek die meem geplaas en toe so ʼn bietjie teruggestaan sodat mense hulle sê kan sê sonder dat ek daar staan en skeidsregter speel. Hoe het hulle op "brekende nuus" gereageer? Kom ek volstaan dan nou maar net: Hierdie krieketwedstryd het binne ʼn uur in ʼn rofstoeitoernooi verander. 
Daar was ʼn hele paar baie pront reaksies, omtrent almal op die trant van "lelik", "aaklig", "lomp", "flou", "belaglik" en "kan nie wees nie". Volgens van die klaers was die vertalers wat met die ekwivalent vorendag gekom het, selfs "lui" en "hensoppers". Soos ek sê: Ek waardeer die deelname op die blad, maar ek behou my ook die reg voor om daarop te reageer, veral op die laaste twee aantygings, want as dit persoonlik raak, raak ek woordvaardig.
My vraag aan al die beswaardes was: Is julle oordeel (van "mooi" teenoor "lelik") op enigiets anders gegrond as dat "brekende nuus" ʼn direkte vertaling uit die Engels (breaking news) is? Indien wel, moet julle al die ander direkte vertalings uit Engels ook verwerp: "plaaslike nuus" vir "local news", "internasionale nuus" vir "international news", "nuusflits" vir "newsflash", "ontvouende nuus" vir "unfolding news", "sportnuus" vir "sports news", "nuusbulletin" vir "news bulletin" en daarmee saam sommer al die ander woorde en frases wat ons daagliks aanwend wat ons uit Engels gekry het. Dis te veel om hier op te noem, ons sal hier sit tot die oordeelsdag.
Die antwoord op die vraag is eenvoudig: Daar is niks fout daarmee om woorde en frases direk uit ʼn brontaal te vertaal nie. Die vooraanstaande vertaalkundige Peter Newmark (hy was professor in vertaalkunde aan die universiteit van Edinburgh) het trouens gesê die verstektegniek wat jy by vertaling gebruik, is direkte vertaling. Dis eers wanneer ʼn direkte vertaling probleme oplewer dat ʼn mens ander vertaaltegnieke (soos omstelling, omkering, koeplette, ens.) begin aanwend. 
As ek kyk na die voorstelle wat die beswaardes ingedien het, kon ek ook nie een daarvan as ʼn werkbare oplossing vir die probleem beskou nie: "Nuusflits" is nie ʼn ekwivalent nie, dis ʼn vertaling vir "news flash". "Ontvouende nuus" is die vertaling vir "unfolding news", wat iets heeltemal anders beteken – die nuus het reeds gebreek en nou is die storie aan die ontvou. "Laaste nuus" is ʼn direkte (en anglisistiese) vertaling van "latest news". In Afrikaans is dit "jongste nuus" – wat ook nie ʼn ekwivalent vir "breaking news" is nie. "Nuusbreker" was ʼn ander voorstel (wat ek ook op Netnuus gesien het en wat my trouens genoop het om die plasing te maak). ʼn "Breker" is ʼn entiteit wat ʼn ander entiteit breek. ʼn Ysbreker (die skip) breek ys in stukke. ʼn Baanbreker breek ʼn baan oop. ʼn Rugbreker breek ʼn rug in twee. ʼn Nuusbreker breek die nuus ... Ja? Hoe? As jy nou ʼn "lelike" vertaling wil sien, is dit ʼn uitstekende voorbeeld.
ʼn Paar gebruikers het voorgestel dat ʼn nuwe ekwivalent deur middel van 'n volkskepping verkry moet word. Dit was interessant. Varsgebek, ons kompetisie vir nuutskeppings, het twee jaar geduur. Ons het nie een voorstel vir "breaking news" gekry nie. Volkskeppings wat so van "bo" af op taalgebruikers afgedwing word, werk boonop baie selde. Vra maar vir mense wat hulle van die woord "toep" vir "slimfoontoepassing" dink. Almal kry sewe soorte piep, maar dis ʼn produk van so ʼn einste kom-ons-dink-ʼn-nuwe-woord-uit-veldtog.
Die aantyging dat "brekende nuus" die gevolg is van lui of onderduimse vertaalwerk, is waarskynlik die een wat my die meeste verstom het. Asof vertalers by verstek lui en onderduims is, en agteraf sit en konkel om die taal te ondermyn. Intussen is dit hulle lewenstaak om die taal soepel en lewenskragtig te hou, en om vir lesers die beste moontlike teks in hulle eie taal te bied.
Die Taalkommissie het "brekende nuus" in die jongste uitgawe van die AWS opgeneem. Dit is dus nie sommer net ʼn plasing wat ek uit my duim gesuig het nie, dis ʼn erkende, gestandaardiseerde taalbousel. Die "keuringsproses" vir opname in die AWS, is ook nie lukraak nie. Daar word eers bepaal of die woord in standaardtaalkontekste gebruik word ("brekende nuus" is in die HAT opgeneem en dit word deur verskeie nuusbronne – onder andere Netwerk24, Maroela Media en verskeie radiostasies – as vertaalekwivalent vir "breaking news" aangewend). Dan word daar gekyk wat die Nederlanders doen ("brekend nieuws"), en dan word daar bepaal of die woord taalkundig korrek is: Die deelwoord "brekend" is gevestig in Afrikaans, in letterlike sowel as figuurlike kontekste: ʼn Mens kry brekende glas, brekende borde, brekende branders en brekende harte. Die woord "breek" word in ander kontekste aangewend saam met "nuus": ʼn Storie breek in die nuuskantoor, ʼn verslaggewer kan ʼn nuwe storie breek, en ʼn storie kan deur CNN gebreek word terwyl die BBC nog sukkel om hulle kameras opgestel te kry. Taalkundig is daar geen rede waarom ʼn mens nie "brekende nuus" kan skryf nie.
Die punt is: "brekende nuus" is opgetekende Standaardafrikaans en die erkende vertaalekwivalent, en tensy jy met ʼn ander, beter, aanvaarde, gevestigde en opgetekende voorstel vorendag kan kom EN vir my kan bewys dat jou alternatief taalkundig meer korrek is, is "brekende nuus" die ekwivalent wat gebruik moet word. Ongelukkig is "lelik", "aaklig", "belaglik" en "julle is net lui" nie geldige redes vir die skrapping van die opname nie.
VivA-groete
Sophia


Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)...
by SAOU 18 Apr, 2024
SAOU STANDPUNT OOR SKOOLUNIFORMS
by Anet Burns, Departementshoof, Laerskool Monumentpark, Pretoria 16 Jan, 2024
Jy het uiteindelik jou studies voltooi en met die aanbreek van die nuwe skooljaar sien jy uit na jou heel eerste onderwyspos. Hulpmiddels vir jou klas word gemaak en gekoop, en van die kalender tot verjaarsdagplakkaat pas alles by die oulike tema wat jy gekies het. Op sosiale media sluit jy fluks aan by die onderwysergroepe en vra raad by ander. Alles sodat jou eerste dag sonder enige haakplekke kan verloop! Alhoewel daar ‘n magdom praktiese wenke is wat jou nuwe kollegas met jou sal deel, is dit belangrik om te onthou dat elke kind, klas, skool, jaar en ouergemeenskap van mekaar verskil. Planne en tegnieke wat by kollega A se plattelandse skool in die Noord-Kaap ‘n treffer is, sal dalk nie by jou voorstedelike skool in Gauteng so suksesvol wees nie. Tyd en ervaring het egter geleer dat daar wel ses basiese dinge is wat alle onderwysers (meestal) positief en produktief sal hou - maak nie saak waar of hoe lank jy skoolhou nie.
by VivA • 19 Jul, 2023 19 Jul, 2023
Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel ; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail , soos in Sy het ’n oog vir detail ? Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
More posts
Share by: