DIE ONONDERHANDELBARE GEREEDSKAPSTUKKE VIR JOU KIND SE SUKSES EN JOU OORLEWING

Jip. Inderdaad. Skuldig. Ek was ook een van hulle. 

Een van daardie ouers wat gewroeg en gewonder het of my kinders oukei sou wees met verandering en of hulle die nuwe graad en nuwe fase en selfs later die hoërskool, sou kon trotseer. Want sien, die Graad 3 juffrou was hul tweede ma. Ek was heilig oortuig daarvan dat die Graad 4 meneer te kwaai sou wees. Sê nou die kind is in die moeilikheid oor boeke wat tuis vergeet is en huiswerk wat nie gedoen is nie. Sê nou hulle word geboelie of verstaan nie die werk nie. Sê nou hulle word gespot. Sê nou die onderwysers pik op hulle. Sê nou hulle is alleen en het nie maats nie. Sê nou… sê nou…. 

Dieselfde engeltjies waaroor ons as ouers ons so bekommer en wonder of hulle dit gaan maak, veroorsaak egter later ‘n paar ander emosies in ouerharte ook. In Graad 3 is hulle die “seniors” van die fase, bulletjies en jong primadonnas, in Graad 4 is hulle die “kleintjies” van die Intermediêre fase. Dan tref tienerskap ons: hierdie amper gewelddadige, emosionele fase waar emosies wissel van stilstuipe tot deurkosyne se sterkte wat getoets word, waar hormone dikwels verander in demone en waar ma’s tot vroeë menopouse simptome gedwing word. Gooi die realiteit van toenemende groepsdruk soos wat kinders ouer word, ook in die resep, en die kans is redelik goed dat iemand iewers hul sin vir humor gaan verloor. 

Kom ons staan een tree terug en kry perspektief. En ja, dit is so: old age is a terrible price to pay for wisdom. Een tree terug, gee perspektief. Die verskillende skoolfases is met rede so ingedeel en is eintlik die boustene wat ons kinders gaan voorberei om eendag hul vlerke te kan sprei en self te vlieg want akademiese prestasie van 80%, sertifikate en trofeë is nie ‘n waarborg vir sukses nie.

Die Grondslagfase is die eerste stap van koestering en om kinders emosioneel veilig te laat voel sodat hul kan waag en nuwe dinge kan leer. Juffrou het nog tyd om te troos as die toon pouse oopgestamp is. Ekstra tyd om werk klaar te maak. ‘n Geborgenheid wat geskep word. En nee, dit help nie om die kinders se huiswerk vir hulle te doen nie, want sien, in Graad 4 lyk die prentjie anders. Die pas versnel dramaties. Meer vakke, meer klaswisseling, meer onderwysers waar daar verskillende hanteringswyses van dissipline is. Graad 7 is nie ‘n verlenging van Graad 6 nie. Graad 7 is die begin van ‘n nuwe fase: die senior fase, die voorbereiding vir hoërskool en meer verantwoordelikhede. Daar is baie minder tyd om aan fisiese, sosiale en emosionele vaardighede aandag te gee. As jy agter is, is jy agter. Gebalanseerde kinders wat hulself kan handhaaf, wat hul eie tas kan pak, hulself en die ruimte om hul kan organiseer, onder druk kan werk, oplossings self kan vind en weliswaar hul gesonde verstand kan gebruik, kan die suksesskaal in ons kinders se guns laat kantel. Wat is dus die magiese, ontwykende gereedskapstukke wat in ons kinders se gereedskapstas moet wees? Dit is baie eenvoudig, dalk het ons almal net vergeet. Dit begin met die woorde “kom ons”.

Kom ons sorg dat ons kinders ‘n uitstekende woordeskat het sodat hulle hul emosies en denke in woorde kan uitdruk, want die lewe gaan oor kommunikasie. Ouers met kleuters moet nou reeds vir hul kinders soveel as moontlik lees en met hulle gesels, want dit is waar woordeskat gevestig word. Leerders wat ‘n taalagterstand en gebrekkige woordeskat het, sukkel om die inligting wat geleer moet word, te verstaan, om deel te neem aan klasgesprekke of om hulp te vra asook om emosies te verwoord. Gebrekkige taalkennis en woordeskat is een van die grootste struikelblokke in leerders se vordering. 
Dissipline en roetine is die verantwoordelikheid van ouers, nie van skole nie. Ouers moet bereid wees om besliste, konsekwente grense tuis te stel. Die lewe gaan oor keuses: dis óf gehoorsame kinders, óf gehoorsame ouers. Die keuse is ons s’n. Kom ons sorg dat ons kinders nie onnodig tyd voor rekenaars, televisie en selfone verspeel nie en dat hul genoeg slaap inkry. Moeë kinders wat gedurende skoolure sukkel om hul oë oop te hou en op hul werk te konsentreer, is ‘n baie groter probleem as wat ons as ouers besef. Kinders leer deur voorbeeld. Gebrekkige kurrikulumdekking word hoofsaaklik toegeskryf aan leerders se swak taalkennis en woordeskat, maar ook deur onderrigtyd wat verlore gaan. Ouers wat dus self swak tydsbestuur toepas en gereeld laat is vir werk of om hul kinders by die skool te besorg, stel die voorbeeld dat krisis tydsbestuur aanvaarbaar is. Dis broodnodig vir kinders om voor skool met vriende te sosialiseer – dit is waar die gevoel van “ ek behoort, ek is deel van” gevestig word.

Waak teen ”spoonfeeding”. As die boek of die sportsak tuis vergeet is, dan is dit so. Moenie dit agter hul aanry nie. Ons doen ons kinders nie ‘n guns deur by onderwysers aan te dring op die afbakening van werk vir toetse of eksamens nie. Al wat ons as ouers daardeur bereik, is om ons kinders se pad eendag na moontlike tersiêre onderwys te bemoeilik waar daar toenemend van ons kinders verwag word om selfstandig te kan werk. Ons kinders moet leer hoe om massas werk krities en vinnig genoeg te kan deurwerk en ‘n geheelbeeld te verkry. Kom ons ondersteun liewers ons kinders deur seker te maak dat hul korrekte studiemetodes het, dat hul weet hoe om notas te neem, op hul eie te leer en dat hul hul eie tyd kan bestuur en hulself kan organiseer. Net soveel regte as wat ouers het ten opsigte van verwagtinge wat ons aan die skool stel, net soveel verantwoordelikhede het ons ook. Oueraande is eintlik selde opsioneel, kom ons MAAK tyd, woon dit by. Onthou kinders spel liefde, T-Y-D. Respekteer die skool se lynfunksies en begin altyd by die onderwyser – nie die skoolhoof nie. Kom ons leer ons kinders hoe om konflik te hanteer, kom ons gaan kla minder by die hoof en bou aan goeie verhoudinge met klasonderwysers waar ons bereid is om hul die voordeel van die twyfel te gee. Dalk moet ons weer ‘n slag in die spieël kyk en onthou, ons is almal mense. Met foute. Kom ons as ouers vat hande met ons kinders se onderwysers en begin om mekaar te vertrou. Iewers moet dit begin – waarom nie by ons nie?

‘n Gebrekkige sin vir verantwoordelikheid, kan een van die grootste struikelblokke op ons kinders se pad van sukses wees. Graad 12 is net om die draai. Kom ons leer ons kinders van kleintyd die waardes wat ons in ‘n werknemer self sou soek : werksetiek, deursettingsvermoë, respek vir diegene om ons, ‘n toleransie vir ander tale en kulture, geduld, vriendelikheid, positiwiteit, integriteit en basiese goeie maniere. Kom ons leer ons kinders ons hou by sperdatums en ons maak dit wat ons begin, klaar. Kom ons leer ons kinders om in ‘n span te werk. Kom ons leer ons kinders om te kommunikeer, sonder die selfoon, om die tafel, deur mekaar in die oë te kyk en vir mekaar te luister. Kom ons leer ons kinders die lewe is nie regverdig nie en dit gaan nie net oor regte nie. Die lewe bly ‘n voorreg, kom ons respekteer dit so. Dan, weet ek, sal ons kinders meer as oukei wees.
by SAOU 16 Apr, 2024
NN 14/2024: In die Nasionale Nuusbrief 12/2024 (klik hier) is berig dat die 4,7% algemene salarisaanpassing m.i.v. 1 April 2024 geïmplementeer word.
Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)...
by SAOU 09 Apr, 2024
NN 13/2024: Die huidige bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) rakende geslaggebaseerde skooluniforms, het die debat oor diversiteit opnuut in skole laat opvlam.
More posts
Share by: