ONDERWYSERS KORT NOU HOOP

Maresa Viljoen

KAN EN MOET ONS VAN OUERS VERWAG OM HUL KINDERS TYDENS HIERDIE GRENDELTYD TE ONDERRIG?

Twee “grendel”artikels in Beeld van 6 April, het swaar op my skouers kom rus. Johann Maarman (Ons het nie nou Tarzans nodig) en Anena Burger (Leer in tyd van Covid-19) het die Suid-Afrikaanse konteks met woorde geskets. Twee wêrelde vasgevang binne-in een land se grense. Onderwys is die oënskynlike brug van versoening. Of is dit die muur van verdere uitsluiting?

Kom ons staan een tree terug en probeer om nuut te kyk na onderwys in hierdie grendeltydperk. Is dit billik om van ouers te verwag om ‘n tipe tuisonderrig-model te volg? Hoe gereed is ons land se ouers, om as primêre opvoeders, hul kinders te onderrig? Hoe gereed is SA se onderwysstelsel vir die grendeltyd en ook die rimpelings daarvan?

Daar is die afgelope tyd heelwat aanlyn-inligting beskikbaar vir ouers en leerders waarin allerlei aktiwiteite en hulpmiddels gekommunikeer word. Daar is daagliks voorbeelde van gesinne wat hierdie grendeltyd as optimale gesinstyd benut en waar ouers regtig prettige maniere gekry het om hul kinders te betrek by leerprosesse en waar kommunikasie vir die eerste keer in jare, weer ‘n plek in gesinne gekry het. Ons samelewing pleit al geruime tyd vir ‘n terugkeer na hierdie kwaliteit-gesinstyd, bou van verhoudinge en goeie kommunikasie. Vir talle opvoeders is die ingesteldheid rondom grendeltyd ‘n antwoord op baie gebede. Leerders met emosionele en sosiale intelligensie maak ons werk in die klas net soveel makliker. Vir elke kind wie se morele waardes in plek is, is dit een minder geveg in die klas, een minder boelie, een minder slagoffer van geweld, een periode meer wat ons aan die kurrikulum kan spandeer, een tree nader aan die doelwitte wat daar vir ons gestel word, een tree nader aan die matriekslaagsyfer wat ten alle koste moet verhoog.

Vindingryke planne word gemaak om kinders tuis te oorreed om skoolwerk te doen. Sommige kinders kla so bietjie dat pa en ma nie heeltemal so mooi soos juffrou en meneer verduidelik nie en dat pa se manier van somme maak baie verskil van hoe meneer hul geleer het. Die realiteit is ouers is selde regtig op hoogte van dit wat tans in die leerplan is en dit wat aangeleer moet word. Alle ouers het nie noodwendig die kennis en vaardighede om hul kinders te ondersteun nie. Alle huishoudings het nie toegang tot die velerlei aanlynhulpbronne nie. Sommige kinders se inperkingsrealiteit is vier mure en stofstrate waar tegnologie beslis nie deel is van die norm nie. Alle ouers verstaan nie noodwendig die taal waarin hul kinders onderrig word nie. Hoe op aarde gaan hierdie kinders op hoogte kom van en op datum bly met leermateriaal? 

Wanneer die skole weer heropen, gaan daar leerders voor opvoeders sit wat elke dag ‘n mate van tuisonderrig gehad het en redelik op hoogte is met hul skoolwerk. Baie optimisties gesien, sal dit hoogstens een derde van ‘n klas wees. Die ander twee derdes van leerders het waarskynlik op 17 Maart laas enige skoolwerk onder oë gehad. Sommige van hulle is moontlik aan die hoof van ‘n huishouding met geen pa of ma nie, geen bron van inkomste en geen manier om ‘n voorraad kos vir drie weke te koop nie. Hierdie kinders se hoop was regtig net om te oorleef. Aanlynlesse en ondersteuningsmateriaal is vir hierdie kinders so vérgesog soos ‘n koskas vol kos en aandetes rondom ‘n gesinstafel. Statistiek van 2019 (South African Child Gauge 2019) stel dit dat 60 % van ons kinders in SA onder die broodlyn lewe. 

Opvoeders is sedert 18 Maart terdeë bewus van die uitdagings van hierdie grendeltyd en gepaardgaande druk op die sisteem. Die kurrikulum is reeds oorvol met hopeloos te veel assessering en te veel druk op leerders om te presteer. Mei- Junie is eksamentyd. Ons sien opvoeders wat aanlynlesse voorberei, leerders se werkstukke word elektronies gestuur, nagesien en teruggestuur. Die inperking het opvoeders se privaatheid laat vervaag , persoonlike fone, -toerusting en -data moet ingespan word in hierdie stryd. Kan dit waar wees dat daar skoolbeheerliggame is wat opvoeders laat weet het omrede daar nie gedurende April skool gegaan gaan word nie, gaan die opvoeders ook nie salaris ontvang nie?  

Hoe gerat is Suid-Afrika se opvoeders om so effe onkant, in die sloot van aanlynonderrig gestamp te word? Die oorgrote meerderheid van SA se leerders is in die koue gelaat. Maar ek wil glo dat die meerderheid van ons opvoeders ook in die koue gelaat is. Die Vierde Industriële Rewolusie is op die politici se lippe, maar dit is nie noodwendig in ons skole, in ons gemeenskappe en in ons leerders se huise nie. Alle voorspellings dui daarop dat die ergste Covid-19 golf ons eers teen Mei/Junie gaan tref. Verreken ons die impak van ‘n pandemie op skoolgemeenskappe? Daar gaan skole wees waar opvoeders en leerders langs leë stoele gaan sit waar kollegas of klasmaats moontlik nie meer daar gaan wees nie. Trauma gaan deelwees van Dag 1. LIFELINE hanteer tans 4 000 oproepe om hulp daagliks. Voorheen was dit 4 000 oproepe per week. Ons is ‘n samelewing in nood, om meer as een rede. 

Genoeg onbeantwoorde vrae. 

‘n One-size-fits-all benadering weet ons mos nou al, werk nie. Wat kan ons doen om die speelveld dan te probeer gelykmaak? Eerstens ‘n regering wat ons opvoeders se stem sal hoor; amptenary en vakdviseurs wat vir een keer aan ons opvoeders se kant is en ons hande sterk met ‘n werklik haalbare, werkbare opvangprogram. ‘n Opvangprogram behels sóveel meer as lesse wat ingehaal moet word, Saterdae en namiddae wat opgeoffer moet word. Skoolbesture en -beheerliggame gaan voor totale nuwe uitdagings te staan kom, die emosionele welsyn van skoolgemeenskappe gaan ‘n nuwe dimensie aanneem. Skole gaan voorbereid moet wees om die nuwe moontlike riglyne vir sanitasie en handhawing van veilige afstande in skole in te stel. Is ons gereed hiervoor? 

Tweedens, leerders in ons klasse wat hulself en ander om hul respekteer - wat ‘n verskil sal dít nie maak nie! Leerders met ‘n morele kompas en deursettingsvermoë sal dissipline in ons klasse laat verbeter en sal opvoeders toelaat om vinniger deur die kurrikulum te kom, beter samewerking te kry en sal leerders leer om weer toleransie vir mekaar te hê. Dit is algemene kennis dat daar tans meer tyd aan dissipline spandeer word, as aan kurrikulum. ‘n Klein rigtingaanpassing nou, kan ‘n groot verskil vorentoe maak.

Derdens, as leerders net solank dit wat die eerste drie maande van die skooljaar onderrig is, probeer deurgaan en verstaan, gaan die wegspring volgende kwartaal ‘n 100% verbetering wees. Die moontlikheid word genoem dat die Junievakansie met een week verkort gaan word en dat die September/Oktobervakansie in die slag kan bly. Daar gaan aanpassings gemaak moet word, massa-histerie rondom die “inhaal” van skoolwerk is tans onnodig. Dit maak almal angstig en dra beslis nie by tot kalmte en nugter denke nie.  

Die pandemie word wêreldwyd gesien as ‘n noodkreet aan die mensdom om te stop en te besin, om te lewe deur te laat lewe, ‘n laaste poging om weg te beweeg van die eie-ek en om ons ons verantwoordelikhede te laat besef. Ons opvoeders kort hoop. Ons opvoeders het nodig dat ouers en leerders weer in ons glo. As een klein virus ‘n wêreld so kan omkeer en só ‘n invloed op die mensdom kan hê, dink net watter verskil ‘n geloof-mosterdsaadjie kan maak. Covid-19 kan dalk net ons laaste probeerslag wees. 

Marésa Viljoen
Adviseur: SAOU Professionele Dienste

by Anet Burns, Departementshoof, Laerskool Monumentpark, Pretoria 16 Jan, 2024
Jy het uiteindelik jou studies voltooi en met die aanbreek van die nuwe skooljaar sien jy uit na jou heel eerste onderwyspos. Hulpmiddels vir jou klas word gemaak en gekoop, en van die kalender tot verjaarsdagplakkaat pas alles by die oulike tema wat jy gekies het. Op sosiale media sluit jy fluks aan by die onderwysergroepe en vra raad by ander. Alles sodat jou eerste dag sonder enige haakplekke kan verloop! Alhoewel daar ‘n magdom praktiese wenke is wat jou nuwe kollegas met jou sal deel, is dit belangrik om te onthou dat elke kind, klas, skool, jaar en ouergemeenskap van mekaar verskil. Planne en tegnieke wat by kollega A se plattelandse skool in die Noord-Kaap ‘n treffer is, sal dalk nie by jou voorstedelike skool in Gauteng so suksesvol wees nie. Tyd en ervaring het egter geleer dat daar wel ses basiese dinge is wat alle onderwysers (meestal) positief en produktief sal hou - maak nie saak waar of hoe lank jy skoolhou nie.
by VivA • 19 Jul, 2023 19 Jul, 2023
Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel ; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail , soos in Sy het ’n oog vir detail ? Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
by J van den Berg 02 Jun, 2023
Onderrig is 'n veeleisende beroep wat baie fisiese en geestelike energie verg. Met lang ure en 'n besige skedule kan dit vir onderwysers uitdagend wees om die tyd en energie te vind om goed te eet. Om seker te maak dat jy 'n gebalanseerde en gesonde dieet eet, is egter noodsaaklik om goeie gesondheid te handhaaf en op jou beste te presteer. In hierdie blogpos bespreek ons 'n paar wenke vir onderwysers om goed te eet en gesond te bly.
More posts
Share by: